Tags

Everyday Life. A day in the life of MaanKind.
Eerstens as ek wakker word, oordink ek my drome, en kyk na die notas wat ek in die nag in die donker agter in die boonste boek op my bedkassie gemaak het, terwyl ek my tee drink wat MaanMan gebring het. (Daar staan vandag gekrabbel – Mense in hysbakke)

Daarna is dit gou kyk op my Blackberry of daar iets is wat dadelik moet aandag kry, en vinnig loer na Facebook opdaterings.

Daarna is dit tyd om die kikoi wat ek om my lyf draai as ek gaan swem, van my rekenaarskerm af te haal en gou dit wat dadelik per e-pos moet aandag kry, te doen.

*Ignoreer MaanMan se vraag of ek nog nie aangetrek is nie*

Besluit dan om huweliksomnin te vermy, om te gaan stort… Daarna is dit tyd vir MaanMan se lekker gebroude koffie – ek op my rooi leerbank, en hy op sy denimbank, en dit kan lei tot ure-lange gesprekke oor die lewe, die dood en alles tussenin wat lei na die lewe en die dood.

 

Dan is dit tyd vir voete natmaak en seëninge tel…

 

   

 

Ons doen al ons huiswerk, instandhouding, die bedryf en bemarking van ons gastehuis (insluitend was en styk van beddegoed) self. Padwerke  die afgelope paar dae (opgradering van ons waterstelsel) alles met ‘n stoflagie bedek. So vanoggend het MaanMan en ek elkeen sy eie stofsuier bestuur, hy onder, en ek bo. Alles wat ons besit word aanhoudend met ‘n nat lappie afgevee, en goed soos my klippies word afgewas en blinkgevryf teruggepak.

 

Om te werk maak mens moeg en dors, en ons het vitamines en minerale nodig. WIe sê ja vir ‘n lekker glas wortelsap, met vars gemmer, suurlemoen en appel?

Normaalweg kan ek nie wag om klaar te maak met hierdie goed nie, dat ek by my lekker nuwe projek kan kom, my hart en siel gaan daarin! Mense besef nie altyd hoeveel admin en tyd in jou eie besigheid ingaan nie, maar glo my, mens sit bitter baie ure in. Ek het hierdie week, benewens e-Boeke verwerk, ook gewerk aan ‘n nuwe logo en webwerf, en dis so lekker!

Daar is nog so baie wat ek kan wys, die stapels boeke wat rondlê in afwagting op ‘n totale herorganisasie, maar ek sal volstaan by hierdie fototjie van wanordelikheid. Dit is hoe ons huis normaalweg nié lyk nie.

 

En dit liewe bloggers, is net so ‘n paar flitsies uit die lewe van die MaanMense se normale dag.

‘n Paar tree in MaanKind se pienk seeplakkies

http://dailypost.wordpress.com/2012/09/14/weekly-photo-challenge-everyday-life/