Beroep: Skoonmaker
Beroep: Bemarkingsbestuurder
Beroep: Wasvrou
Beroep: Besigheidsvrou
Beroep: Besigheidsanalis
Beroep: Admin
Beroep: IT
Beroep: Skrywer
Beroep: Huisvrou
Beroep: Uitgewer
Mens moet mos soms jou beroep om die onmoontlikste vorms invul, waar dit eintlik totaal irrelevant is, dan het ek baie pret om sommer enige iets onvanpas in te vul. Hoewel daar eintlik ‘n tikkie erns ook by is, want wat is nou eintlik my beroep? So ‘n tikkie van al bogenoemde. Selfs my beste vriende sukkel daarmee, hulle neem nie my werk ernstig op nie. Waarskynlik my eie skuld, omdat ek my werk geniet en die lewe vir my lekker is. Soms sukkel ek dan self om te onderskei tussen wat werk is en wat nie. Tog is dit soms asof mense dink ek moet my werk inpas rondom hulle sosiale aktiwiteite, en nie andersom nie.
Dan is daar ook ‘n ander sy daaraan. Deel van my werk vir ons vakansie-akkommodasie wat ons bedryf, behels die skoonmaak van die woonstelle, beddegoed was en stryk en storte skrop. Ek weet dit is ‘n nederige werk, ek het immers al kennis gemaak met vlekke van elke soort koekiekrummel, chippies en ook elke soort liggaamsvloeistof/uitskeiding wat daar is. ‘n Vriendin het my een dag grappenderwys die Queen van kolle genoem, omdat ek alles weet van vlekke en vetterige handjies op beddegoed.
Dan natuurlik het ek vir die Boekemakranka deel van my werk, altyd meer werk as tyd. Dit is lekker werk wat ek baie geniet, maar dit neem tyd.
Ek kry dikwels dat mense my bejammer oor die nederigheid van die werk en dis glad nie nodig nie, dis maar net deel van my dag. As ek stryk, is dit omdat dit my keuse is, dis lekker dinktyd. Een van die lekkerste projekte van my lewe, My kort vir jou sop, is immers agter die strykplank gebore. Moenie vir my jammer wees as ek op ‘n Sondag skoonmaak nie, ek gaan Dinsdag fliek as jy werk. Dis net wat ek doen, om die Banting-broodjie op die tafel te kan sit. Ek ruil dit vir geen kantoor, verkeersknope, mislike base of niks. Oukei, my ‘baas’ gee my ook maar lekker opdraand as ons soggens koffie drink tot na 10. (Daar ook is die skeidslyn tussen besigheidsvergadering hou en plesier maar vaag.)
Ons werk ook vreemde ure, navrae word dikwels in die bed beantwoord 06:00 in die oggend, of 22:30 in die aand. As mense navraag doen oor akkommodasie wil hulle nóú ‘n antwoord hê. Dankie tog vir tablette en slimfone! (En natuurlik templates van quick responses, sodat ek lang generiese stukke teks met al die moontlike antwoorde met die druk van ‘n knoppie byderhand het). Meestal is ons Sondae gewy aan woonstelle skoonmaak. (Ons koffie & koerant darem eers). Die lekker deel is dat ek sewe dae per week kan slaap totdat ek lús is om op te staan. As my voete behoefte het aan seesand, kan ek so maak, as die dag dit toelaat.
Gastehuis by die see, waar ek soms die baas, maar dikwels ook Klaas is? Bepaald minder romanties as wat dit klink, maar ek ruil dit vir niks.
Die inspirasie vir hierdie skrywe was ‘n projek van Book of Life, waar hulle die dag in die lewe van mense beskryf het.
But I say, not in sleep but in the over-wakefulness of noontide, that the wind speaks not more sweetly to the giant oaks than to the least of all the blades of grass.”
— Kahlil Gibran
“Opportunity is missed by most people because it is dressed in overalls and looks like work.”
— Thomas Edison