Elke keer as ek my tande so wegsink in ‘n suurdeegbroodjie dat die tandmerke so in die botter bly sit, dink ek hoe ek my as kind geskaam het hiervoor. Die ander kinders het lekker sagte spierwit brood met rooi konfyt uit ‘n blik gekry. En óns moes tuisgekookte appelkooskonfyt op suurdeegbrood met harde korsies eet. Of gemaalde kaiings! Ek het my doodgeskaam vir die gesonde koringkleur van stoneground meel wat ons self by Wenholdt se meule gaan koop het.
Daarom het ek nie broodjies skool toe gevat nie. Die brood en eier van die ontbyt, waaroor ek my óók geskaam het as ek hoor van die ander kinders se Post Toasties, het my vol gehou tot die gekookte ete na skool. En ek moes sit tót ek my boontjies geëet het!
Daarna kon ek tuisgebakte koekies eet soveel ek wou… ‘n Keuse uit verskillende geelgeverfde lampolieblikke. Of van die koek met die klapper en Post Toastielaag, wat bros gebak bo-op die koek ‘n soet laag gevorm het. Ander kinders het lekker Bakers gemengde koekies uit ‘n pakkie gekry. Ons nie, en Post Toasties is nie kos nie.
Warm water het by ons nie uit krane gekom nie, maar is in potte op die koolstoof warm gemaak en aangedra badkamer toe.
As kind het ek baie maal beroof van geleenthede gevoel, omdat my persepsie was dat ons baie arm was. Ons plaaskinders het nie almal toegang tot al die naskoolse aktiwiteite gehad nie agv die vervoerkwessie, maar in my kop het ek gedink my ouers kon maar ‘n plan maak. Vir skooltake en werk in die biblioteek na skool het hulle wel geen moeite ontsien nie.
Ek kom agter dat nostalgie mense se oordeel soms kleur – As iemand so nostalgies raak oor ‘n kerse, lampe en longdrops met netjiese vierkantjies papier uit ‘n telefoongids op plase, weet ek sommer hulle het nie daarmee grootgeword nie, maar dit dalk net as ‘n aardigheid op ‘n ouma se plaas beleef.
Ons was dalk arm, maar ons opvoeding is ‘n skatryk nalatenskap. Ongelukkig besef ‘n mens dit eers in jou volwasse jare. En arm in vergelyking met wat?
Hierdie wanpersepsie van armoede het onder andere bygedra dat ek al die jare met ‘n soort minderwaardigheid rondgeloop het. Ek weet ook, die destydse ‘ryk’ kinders het nie noodwendig presteer of uitgestyg op enige gebied nie. Vandag weet ek, ek kan myself handhaaf in enige geselskap, maar dit was nie altyd so nie.
So hoe bou mens aan ‘n gesonde selfbeeld? Lees en leer. Stel jouself oop vir enige geleentheid en gryp dit aan. As jy nie weet nie, vra.
Daar is soveel dingetjies wat uiteindelik van jou die mens maak waarop jy self trots kan wees, dat jy steeds ‘n hart vir ander het, maar jouself nie geringskat nie.
Die afgelope maand het twee mense uit my kinderdae kom kuier, en dit het vir my meer beteken as wat hulle ooit sal besef. Toe Carel en Veronica instap, het ek sommer aangevoel dit is my dam se eende dié. En heeltemal toevallig, beland ‘klein Bennie’ wat saam met my jonger susters op skool was, by ons gastehuis se voordeur. Met die lieflikste vrou en ‘n dogter met spesiale behoeftes. Ek het ‘n lang, woordelose gesprek met Bennemie gehad, met haar siel in haar oë, wat dieper as jou menswees kyk. En met Ben het ek kinderdae se kwessies gesels, diep dinge.
Met Carel-hulle het die gevoel begin posvat, maar toe Ben-hulle ry, het die laaste stukkie van my lewenslegkaart moeiteloos in sy plek geskuif. Ek kon met nuwe perspektief na alles kyk en weet – ek is orraait.
There are so many more important things to worry about than how you’re perceived by strangers.
– Dennis Lehane