Ek het dit oorkom! Regtig?

Etikette

, , ,

Baie mense beleef dat sekere temas in hulle lewens herhaal word, soos die man wat sy kinders mishandel en dan as versagting aantoon dat hy self as kind mishandel is. Of die vrou wat herhaaldelik betrokke raak by mans wat haar onderdruk of mishandel. Soms kom mense uit daardie omstandighede en soms nie. Mense wat van buite kyk, kan meestal glad nie verstaan waarom so iets gebeur nie,.

Vanoggend is ek getref deur iemand na aan my wat vir ‘n hele aantal jare deur ‘n gesinslid verwerp is. Dieselfde persoon wat haar verwerp het, word nou deur iemand anders baie na aan hom, verwerp. Karma, sal baie mense dadelik dink, maar dis nie so eenvoudig nie. Vir my het dit niks met saai en maai te doen nie, maar met die tema van jou lewe.

Dit is vir my duidelik uit my eie lewe en ook uit die waarneming van ander mense wat ek goed ken, dat elke mens een of twee duidelike temas op hulle lewenspad het waarmee hulle herhaaldelik gekonfronteer word. Hierdie tema kan op enige manier manifesteer, jy kan dit ervaar in jou lewe, op enige manier. As jou tema bv armoede is, kan jy daarmee gekonfronteer word in verskillende situasies, op verskillende tye van jou lewe, afhangend van jou keuses. Jy kan leer om armoede te aanvaar of jy kan armoede oorkom, maar jy verwerk armoede op een of ander manier op jou lewenspad.

Nou verband hiermee is keuses. Keuses is nooit maklik nie, dit is nie altyd ‘n Maklik-Moeilike keuse nie. Dikwels is dit Moeilik-Moeilik. Niemand kan die gevolge van ‘n keuse voorsien nie, en dikwels is die gevolge van ‘n keuse hartverskeurend, al was dit op daardie oomblik die beste keuse onder die omstandighede. Ons moet net altyd bly glo dat dit tóé die regte keuse was, en dat ‘n ander keuse nie noodwendig beter gevolge sou hê nie.

Wanneer daar twee duidelike temas in jou lewe is, en jy neem in ag hoe die keuses wat jou lewe se rigting verander het, verskillende maniere gebied het hoe hierdie temas kon manifesteer, word dit nogal ingewiikkeld om insig te hê in daardie temas, of jy dit moet oorkom en of jy dit moet leer aanvaar. Die verskillende maniere waarop ons hierdie uitdagings op ons lewenspad aanpad, maak dit natuurlik ‘n reuse uitdaging!

Natuurlik is dit makliker om van buite te kyk na ander se lewenspaaie en temas en eers met nabetragting kan ons ons eie bepaal. Dit verg geweldige selfinsig om werklik te besef wat hierdie temas is en hoe dit ons lewens beïnvloed, omdat dit so verwikkeld is, afhangend van die keuses wat ons maak wat die rigting van ons lewens verander, soos verhoudings en beroepskeuses.

Hierdie eenvoudige tabel illustreer net drie verskillende opsies van iemand se lewe, wat Eensaamheid en Armoede as tema het.

Armoede Eensaamheid Resultaat
Lewenspad A Ervaar uiterste Armoede Emosioneel bitter eensaam (Ervaar eensaamheid in uiterste armoede)
Lewenspad B Ervaar armoede Taamlik eensaam (Verwerk/aanvaar nie een van die twee nie)
Lewenspad C Oorkom armoede Taamlik eensaam (Oorkom armoede en aanvaar eensaamheid)

Armoede as tema kan natuurlik ook materiële rykdom insluit, as ‘n manier waarop dit verwerk en oorkom word, daarom is dit so moeilik om te sien wat dit is wat ons lewe se pas aangee, wat ons motiveer en rig. Die rede of oorsprong van die temas op ons lewenspad word op ‘n manier deur onsself gekies, voor ons gebore word al, as die rede vir ons bestaan, die doel waarom ons lewe. Maar eintlik maak al hierdie net sin, as jy in reïnkarnasie glo.

En soos André P Brink sê: Só lyk ons vurk in die pad dan: Die tradisionele óf – ój word vervang met die oneindige meer komplekse én – én. Dit beperk ons nie tot reguit en finale antwoorde nie. Dit of dat mag waar wees, maar tersélfdertyd is daar hope ander dinge wat waar mag wees. Elke keer as daar ‘n vurk in die pad is: kom ons vat hom.

 

 

 

 

Luister na my stem …

Etikette

,

Hipnose is een van daardie dinge wat my in al die fases van my lewe geïnteresseer het. Selfs van my kinderdae af, het ek gespeel met selfhipnose/meditasie, sonder dat ek die vaagste benul gehad het wat ek doen. Ek het myself gewil om met toe oë vorms en kleure te bekyk. As studentverpleegster is ek uit die klas gepiek vir die lesing oor hipnose sodat die res kon lag, later as sielkundestudent het dieselfde gebeur. (Die dosent het my agterna eenkant gehou vir geselsies oor ESP, en twee stelletjies kaarte in my hand gestop om mee te gaan speel om my ‘talent’ te ontwikkel.) Iewers in die laat sewentigs het een van my kollegas my ook gehipnotiseer, sommer vir die grap. (Hy was darem opgelei om dit te doen.) Selfs Martino het my uit die gehoor gepiek om op die verhoog aan een of ander oëverblindingtoertjie deel te neem. Hy het met my brein gesmokkel, ek kon agterna glad nie onthou wat op die verhoog gebeur het nie, en het effe gedisoriënteerd gevoel. Iewers staan daar dus op my voorkop geskryf Hipnotiseer my asseblief.

‘n Paar jaar gelede het ek ogegaan vir twee regressiesessies (PLR) en dit het baie gehelp om  die sin van my lewe  en die klippe op my lewenspad te verstaan. Skielik het ‘n klomp dinge net ingekaargepas soos Rubik’s cube wat met die laaste paar draaie al sy kleure bymekaar het. Verhoudings en vriendskappe wat ontwikkel of gesneuwel het, was maklik om te aanvaar en te verwerk.

Die begrip Hipnose, hoe dit werk en waarom sekere mense meer vatbaar is daarvoor, het my altyd gefassineer, ek het gewonder oor die rede waarom dit werk vir party en nie vir ander nie. Nou het professor Spiegel by die Psigiatrie departement van Stanford Universiteit deur ‘n studie aangetoon dat sekere dele van die brein verander in ‘n hipnotiese staat.

“By scanning the brains of subjects while they were hypnotized, researchers at the School of Medicine were able to see the neural changes associated with hypnosis.

The scientists scanned the brains of 57 people during guided hypnosis sessions similar to those that might be used clinically to treat anxiety, pain or trauma. Distinct sections of the brain have altered activity and connectivity while someone is hypnotized, they report in a study published online July 28 in Cerebral Cortex.  

“Now that we know which brain regions are involved, we may be able to use this knowledge to alter someone’s capacity to be hypnotized or the effectiveness of hypnosis for problems like pain control,” said the study’s senior author, David Spiegel, MD, professor and associate chair of psychiatry and behavioral sciences.”

Lees die volle artikel HIER.

(In my volgende lewe wil ek ‘n kognitiewe neurowetenskaplike word)

13900967_10154278042600396_781273963_n13872595_10154278035390396_195643778_n

You use hypnosis not as a cure but as a means of establishing a favorable climate in which to learn. 

– Milton H. Erickson, MD

 

 

Jy is suksesvol! Regtig?

Etikette

,

Volgende jaar is ons 1972-matrieks se 45-jaar reünie. Facebook het dit makliker gemaak om die mense op te spoor, maar ek is verstom hoe min van ons groep eintlik in die  ‘openbare domein’ is. Moontlik word dit wat ek doen vir ‘n lewe grootliks bepaal deur sigbaarheid op die internet, moontlik is dit my ingebore nuuskierigheid oor en belangstelling in ander mense se lewens, maar meer waarskynlik is dit bloot die tikkie ekshibisionisme in my wat maak dat my lewe so ‘n ope boek is.

Eers was ek nogal lus om te gaan, maar ek het my motiewe bevraagteken, en besef dis maar net blote nuuskierigheid wat sou maak dat ek dalk gaan. Ek ken myself, ek is geen party animal nie, en ek sou almal wou bekyk, en na 10 minute huis toe gaan. As ek nie in die vyf jaar op hoërskool met iemand sou aanklank vind nie, waarom nou skielik? Met ons 15-jaar reünie het min mense my herken, of my geselskap opgesoek. Ek was immers een van die Onsigbares op skool.  ‘n Taamlik arm plaaskind. Gelukkig darem die arm-maar-ordentlike soort. Die dorpskinders het mekaar geken sedert laerskooldae en saamgespeel, die koshuiskinders was ‘n geslote groep wat niemand in hulle binnekring wou hê nie.

Met die 25-jaar reünie het ek al bietjie ontluik, ek was in ‘n akademiese omgewing en het gaan selfvertroue leer by Toastmasters. Weer het min mense my regtig herken, of my geselskap opgesoek. Maar dankie aan Hendrik, vir die bier wat hy vir my gekoop het, en iets moois vir my gesê het.

Op ons Facebook-groep word min ander dinge gedeel as reëlings en foto’s van die jaarlikse reünies; en natuurlik afsterwes. Ons is immers nou in daardie tydvak dat dit nie meer onnatuurlik is of dat mense sê, so jonk nog, nie. Niemand deel egter mooi dinge daar of prestasies nie. Natuurlik sou dit interessant wees om te sien wie het uiteindelik sukses behaal in hulle lewens. Maar waaraan meet jy sukses? Wat is sukses? Word dit gemeet aan jou inkomste, jou geleerdheid, jou voertuie, woongebied, vakansiehuis, oorsese reise, suksesvolle kinders, kortom alles wat status verleen?

Success – though longed for – is not an uncomplicated state. It attracts admiration, but also envy. It emphasises our virtues, but – unwittingly – delivers a humiliating verdict on the status of those around us. We tend to locate the reasons for career setbacks in the external world: in the frustrations of office hierarchies and the vagaries of the economy. But sometimes the reasons are purely internal ones, nothing to do with a lack of skill on our part, rather a psychological inhibition about overtaking those who have nurtured us. We can ‘fail’ in order to keep succeeding at other things we’re attached to, like not humiliating our parents.

Hierdie stukkie kom uit Book of Life en verduidelik dalk waarom ons geslag nooit oor ons prestasies en suksesse praat nie, dit afmaak as niks. Tog het ons hard gewerk vir alles wat ons bereik het en is valse beskeidenheid sekerlik onnodig?

Ek glo die mense wat ek nodig het in my lewe vir my verdere groei en ontwikkeling, sal my paadjie kruis, reünie of te nie. Ek hóéf my nie meer te meet aan ander soos op skool nie. Ek is happy and content, my lewe is lekker en relatief ongekompliseerd, ek het absoluut alles wat my hart maar kan begeer, al kan dit nie altyd meeding met die tradisionele maatstawwe van sukses nie. So sit ek nou maar lekker hier by die see en kyk maar so na die wind en die wolke op ons berg wat die mis en die reën bring… En wonder oor sukses.

En ek weet: “We grow neither better or worse as we get old, but more like ourselves.” – Bernard Baruch

Van die eerste dag in standerd ses tot matriek

Toor met Suurlemoen

Etikette

‘n Suurlemoen is darem ‘n lieflike vrug, hy is glad en mooi en kleurvol, maar hy staan sy man. Sy skil se olie is pikant, sy sap het byt. Demp hom met ‘n strooisel sout en so ‘n skyfie suurlemoen met skil en al na ete is heerlik. Gegewe jy het dit met jou eie hande in jou eie kombuis gesny bygesê, ‘n moeë suurlemoenkwart in ‘n restaurant tel nie.

Omdat ons baie Gremolata eet, het ek dikwels meer suurlemoen as skil en dit is teen my grein om goed net weg te gooi. Verál as daardie suurlemoen-sonder-skil in ‘n plastiekbakkie in die yskas beland en daar bly lê totdat ek skuldig voel as hy blou begin skyn en dit dan weggooi.

Nou ja, boeremeisies se deug word gelukkig nie meer gemeet aan deeg wat goed rys, of spensrakke vol blink rye ingemaakte vrugte en konfyt nie. Ons kook nou vir die lekker.

As daar ‘n suurlemoen of twee is met afgeskraapte skil, sny ek dit deesdae in dun skywe. Pak in ‘n wyebekfles en strooi growwesout oor elke lagie. Sny ‘n paar knoffelhuisies middeldeur en pak tussenin. Vul met olyfolie. Vergeet dit nou vir ‘n paar weke in die yskas.

So ‘n skyfie gepekelde suurlemoen is heerlik by hoender of vleis. Drup van die olie (dit word dik in die yskas) oor enige kos of slaai. My ontbyt was vanoggend ‘n slaai gemaak van ‘n avokado in blokkies gesny, twee skywe van hierdie suurlemoen in klein stukkies gesny, gekrummelde feta daaroor, ‘n paar olywe,  bietjie ekstra van die olie en ‘n strooisel tuisgemaakte Dukkah.

Probeer dit. Jy sal altyd twee bottels in verskillende stadiums van beleënheid in die yskas hê as jy dit eers geproe het. Dit hou vir maande.

Laat weet my oor ‘n paar weke hoe dit proe!

Swieties is gesond! Regtig?

Maak vir die kinders swieties, dis gesond! Regtig! Nou nie álle swieties nie nè, net die soort soos hierdies wat ek maak.

Vergeet van die duur pakkie Jerusalem Toffees by die ‘gesondheidsafdeling’ van supermarkte, dis bloot gedroogde dadels.

  • Sy dadels in drie, terwyl die oond warm word tot 150 grade. Plaas stukkies op waspapier ‘n entjie uit mekaar uit. Na 20 minute ruik die hele huis heerlik na molasses, skakel die oond af en laat dit in die oond afkoel. (Haal twee stukkies uit en laat vinnig in vrieskas afkoel ‘om te proe of dit reg is’.) Hou in ‘n bottel of lugdigte Tupperbak. Dit proe bietjie soos die oorspronklike geur Wilsontoffies.
  • Skil piesangs en sny in twee. Vries. Dit verkleur glad nie. Sny in ringetjies en eet dadelik. (Dis lekkerder as wat dit klink! Dit proe soos piesangroomys.)
  • Vries yoghurt in yslollievormpies. As jy vir jou kinders versoete vrugteyoghurt gee, vries dit net so. Vir die gesonder opsie, gebruik dubbeldik griekse yoghurt en blits dit met bessies en bietjie Xylitol.
  • Maak roomys van een blik yskoue Ideal-melk wat jy styf klits, twee gevriesde piesangs wat jy in stukkies sny en fynblits met bietjie van die Ideal-melk, bietjie Xylitol en kakao. (Vir grootmensroomys gooi jy 50 ml Amarula by). Die dae wat jy die blik geklopte Ideal-melk met ‘n blik kondensmelk en ‘n houertjie room gemeng en gevries het, is helaas verby. Soveel suiker is ongesond.
  • Maak seed bars. Rooster eers al die sade wat jy het in ‘n bietjie klapperolie tot ligbruin. Oppas net, dit brand maklik, roer dit heeltyd. Golden flax seed, sesamesaad, sonneblomsaad, pampoenpitte en hierdie groot, plat klapperskyfies. Jy kan ook amandel slivers bysit. Meng dan so drie dele klapperolie, een deel neutbotter (grondboontjiebotter sal ook doen) met die sade. Meng dan bietjie Xylitol en kakaopoeier deur na snaak, en gooi alles in plat pan. Laat stol in die yskas, sny in blokkies en hou in die vrieskas.
  • Maak smoothies van yoghurt, gevriesde piesangs wat in skyfies gesny is en enige bessies en/of vars vrugte en ‘n klein bietjie sap.

Mens raak so gewoond dat hierdie swieties is, dat dit al vir my na kroek begin klink. Eintlik is dit bietjie kroek, want ons eet sover moontlik geen verwerkte kos, kunsmatige kleur- of geurmiddels nie.

 

Gelukkig getroud! Regtig?

Elke huwelik het ‘n rakleeftyd. Sommiges se vervaldatum is sommer vinnig na die blinkoogbloeiselbruid haar Facebookstatus verander het na Married en ander se vervaldatum is eers lank na die afsterwe van een van die twee.

Die Heilige Huwelik. Die kontrak, die tronk, die veiligheidsnet. Vir elke mens beteken dit iets anders.

Waarom trou mense? Waarom trou mense nog in vandag se tyd? Dit is maklik om te dink die huwelik is uitgedien, maar strukture en wette is steeds van so ‘n aard dat dit bloot net makliker is vandag vir een man om met een vrou getroud te wees. Geen afwyking daarvan het dieselfde clout in die breër gemeenskap en voor die reg nie. Dis maklik vir mense om na die huweliksertifikaat te verwys as ‘n “stukkie papier”, totdat die einste mens raad soek oor hulle regte na ‘n saamwoonverhouding.

Die Kerk as struktuur sit steeds hande in die hare oor die hele kwessie van homoseksualiteit. Die afgelope klompie dekades waarin ek as grootmens funksioneer, het daar in die Westerse wêreld ‘n ingrypende verandering plaasgevind in bestaande familiepatrone. Hierdie veranderings manifesteer in die stygende egskeidingsyfer, buite-egtelike geboortes, selfdegeslag huwelike, poli-amorie en saamwoonverhoudings.

Maar waar kom die huwelik as instelling vandaan? Is dit ‘n sosiale konstruk, of ‘n kerklike instelling? Is dit gevoed deur Calvinistiese sienings, of die gevolg daarvan? Die skeppingsverhale is in baie opsigte gebruik en misbruik om teologiese sienings oor seksualiteit en die huwelik te vorm. Maar hoe relevant is daardie sieninge nog in hierdie eeu?

Vanuit ‘n patriargale perspektief is die huwelik so geïnterpreteer dat die ondergeskiktheid van die vrou aan die man daardeur veronderstel word. Eva, die verleidster wat verantwoordelik is vir die sondeval.

Dit is nodig dat ons moet besin in watter mate, met watter deel van  ons ons huweliksmaats liefhet. Met ons harte, ons koppe of ons lywe? Die meeste mense sê en dink hulle is lief vir hulle lewensmaat. Maar om werklik ‘n maat te kan hê vir wie jy diep, onvoorwaardelike liefde het? Daardie sielsmaat aan wie jy met hart en siel en liggaam verknog is. Lyfliefde. Dis werklik min mense beskore. Die persoon met wie ons trou, die blinkoogbloeiselbruid en die ridder, is nie die persoon saam met wie ons gaan leef nie, want daardie persoon verander en groei deurentyd. Dit maak nie saak hoe lief jy die persoon het of in watter mate julle mekaar eer en ag nie – dit alleen mag op die lange duur nie genoeg wees nie.

Uit watter perspektief het die huwelik vandag nog bestaansreg? Watter perspektief is geldig, en waarom? Is die huwelik ‘n kontrak, ‘n tronk of ‘n veilige hawe?

“Marriage is a wonderful invention: then again, so is a bicycle repair kit”
– Billy Connolly

Maklike middeljare! Regtig?

Die middeljare is eintlik ‘n verskriklike fase in ‘n mens se lewe waarop niemand ons voorberei het nie. Dat daar ‘n tyd gaan kom wat jy bewus is van verganklikheid, en tog ook bestekopname moet doen. Van dit wat was, dit waarop jy gehoop het en dit wat jy besef wat nog wag.

Party mense glip gemaklik daardeur, soos die gewone menopause ook. Daaroor is gelukkig so baie geskryf en dokters weet ook hoe om die fisieke  en emosionele simptome te behandel om dit makliker te maak.

Vandat ek ‘n kind is, hoor ek dat hiérdie fase sal verbygaan en dan sal alles makliker wees. Tydens skooljare, studies, swangerskap, babas, kleuters, regdeur totdat die kinders volwassenes is hoor ‘n mens dieselfde, dat dit ‘n fase van verbygaande aard is en dat dinge dán beter sal word. Teen daardie tyd is ‘n mens in jou menopause en alhoewel dit voel of dit die één fase is wat nooit verbygaan nie, besef mens tog op ‘n dag dat die nare besigheid verby is.

My groot ontnugtering was toe ek besef het daar is meer fases, wat doodgeswyg word. Die stil fases, asof dit skandelik is om ouer te wees. Daar word dikwels van die ‘ou mensies‘ in die derde persoon gepraat in hospitale en aftreeoorde, asof hulle nie meer daar is nie.

Act your age. Ja? Sekerlik verskil elke mens, maar glo my, elke mens doen maar waarvoor hy lus is en krag het, en dikwels besef ouer mense dat hulle hulle nie meer so hoef te bekommer oor wat ander sou dink as hulle dit of dat doen nie. C.S. Lewis het gesê: Some day you will be old enough to start reading fairy tales again. Los mense uit, dat hulle doen soos hulle wil.

Daar is iets onrusbarends wat ook in hierdie fase gebeur. Na aftrede, word mense skielik gekonfronteer met dinge wat nie voorheen deel van hulle dag was nie. Skielik is getroude pare se roetine totaal anders, hulle is op mekaar aangewese. Hulle dag word anders ingedeel, hulle bring noodwendig meer tyd in mekaar se geselskap deur. Daar is meer tyd om te dink, dikwels minder om te doen. Rolle verander dramaties.

Vandag het ek gehoor dat een van my vriende uit my jong jare in Desember oorlede is en ‘n skoolvriendin verlede week. Die dood raak ons metgesel, ons ouers en dié van ons vriende sterf een vir een. Omdat ons self ouer is, weet ons ook van die jonger mense wat sterf. Feit is dat verganklikheid ‘n werklikheid word waarvan mens bewus is. Intens bewus is. Jy kan dit as ‘n feit van die lewe afmaak, jy kan jou kop wegdraai daarvan as jy wil, tog veroorsaak dit verskillende emosies wanneer mens so met verganklikheid gekonfronteer word. Mense begin hulle geloof bevraagteken, sosiale media maak dit gelukkig maklik om gesprekke hieroor te hê. Mense praat ook baie meer geredelik daaroor as voorheen.

‘n Baie ongemaklike gevolg van hierdie tydperk in ‘n mens se lewe is dat mense ook nadink oor hulle verhoudings, hulle verwagtinge van hulleself, hulle lewensmaats en van die lewe self. Mense begin skale pak van wat hulle het, wat hulle wou gehad het en wat hulle nog graag wil hê. Dit gebeur noodwendig dat mens soms ook jou verwagtinge moet aanpas by jou situasie. Om jouself, jou eie denke te verander is moeiliker as wat mens mag dink. Die voortvarenheid van vroeër, rig nie meer mense se gedrag nie.

In ons eie vriendekring was onlangs ‘n egskeiding wat niemand gelukkiger gelaat het nie (behalwe dalk die onderskeie regspanne), ten spyte van baie wroeging en skale pak. As daar ‘n derde party betrokke was, was dit dalk anders. Mense het dikwels illusies en mens moet seker maak dat jy nie jou lewe vergelyk met die illusie van wat sou kon wees nie. (Jou illusie van skool of Universiteit is nou ook middeljarig, onthou).

Mense bly nooit dieselfde nie, groei en verandering is onvermydelik. Soms gebeur dit dat twee lewensmaats nader aan mekaar groei, dikwels groei hulle egter weg van mekaar af en verhoudings versuur. Baie gelukkig is die paartjies wat parallel in dieselfde rigting groei. Ons weet hoe lyk hulle, die tannie met die blink oë en die oom wat aan haar vat wanneer hy dink niemand kyk nie.

In ‘n aftreedorp kyk ek om my en ek sien hulle. Almal van wie ek hier praat. Die sterftes, die egskeidings in mense se middeljare.

Gelukkig is hierdie net ‘n fase wat sal verbygaan. Ek wag geduldig. Hierdie keer is die vraag net – op wát?

“I am still every age that I have been. Because I was once a child, I am always a child. Because I was once a searching adolescent, given to moods and ecstasies, these are still part of me, and always will be… This does not mean that I ought to be trapped or enclosed in any of these ages…the delayed adolescent, the childish adult, but that they are in me to be drawn on; to forget is a form of suicide… Far too many people misunderstand what *putting away childish things* means, and think that forgetting what it is like to think and feel and touch and smell and taste and see and hear like a three-year-old or a thirteen-year-old or a twenty-three-year-old means being grownup. When I’m with these people I, like the kids, feel that if this is what it means to be a grown-up, then I don’t ever want to be one. Instead of which, if I can retain a child’s awareness and joy, and *be* fifty-one, then I will really learn what it means to be grownup.”
― Madeleine L’Engle

Ek vergewe jou! Regtig?

Love means never having to say you’re sorry” is ‘n frase uit Erich Segal se boek Love Story, en die 1970 fliek met Ali MacGraw en Ryan O’Neal het dit laat buzz. Vandag sou dit seker trend op Twitter, as ons nie so sinies oor sulke clichés geword het nie.

LOVEKim se Love is… karaktertjies het elke verliefde skooldogter se passerblikkie versier. Net jammer ons het die frase verkeerdom verstaan. In ons koppe het dit beteken dat jou gedrag teenoor ‘n geliefde só moet wees dat jy nooit skeef trap, nooit iets ‘verkeerd’ sê en dus die nodigheid het om verskoning te vra nie. Nou sien ek dit anders. Niemand kan regtig iets ‘aan’ jou doen deur woorde nie. Wat iemand dink, doen of sê, is op sy eie boekie. Hoe ek my laat affekteer daardeur, op myne. As iemand sleg van my dink of praat, is dit bloot in hulle koppe, hulle persepsie van my.

Soos wat ek dinge oor die jare vir myself uitgewerk het, is die behoefte aan ‘n verskoning wanneer jy voel dat jy te na gekom is, ‘n aanduiding dat jy voel dat daar nou iets fout is met jouself, dat jy geskaad is deur ‘n ander se houding of woorde en dus ‘n verskoning nodig het. Dit is vir my maar bloot ‘n funksie van die ego. Jy as persoon kan nie geskaad word deur wat ‘n ander dink of doen nie, jy  dink maar net dat jy kan. Dit is alles in jou kop, jou eie gemoed.

Natuurlik kan mens materiële verliese ly deur ander se aksies, maar jou menswees kan nie deur ‘n ander beskadig word nie, behalwe as jy dit toelaat. Eleanor Roosevelt het gesê: Nobody can make you feel inferior without your consent. Dit was een van die heel eerste quotes wat wyd op die internet versprei is in my kringe in die laat 80’s, vroeë 90’s. Tog is dit een wat steeds ‘n indruk op my maak.

Dan is daar natuurlik ook die ander een oor vergifnis wat dikwels misverstaan word: Jy moet jouself vergewe. Op dieselfde manier wat jy nie geskaad kan word deur wat ander van jou dink nie, kan jou woorde ook nie ‘n ander skaad nie. Net jyself ken jou eie hart en jou eie intensies van jou denke. Wanneer jy weet dat jou intensies nie suiwer is oor ander nie, is dit nie vir jou om daardie persoon verskoning te vra nie, want hy kan mos nie deur jou geaffekteer word nie? Die onus is op jou, om in jou eie hart te kyk, en jouself te vergewe vir wat jy gedink, gedoen of gesê het.

As jy lief is vir iemand, onthef hulle van die ‘verpligting’ om verskoning te vra vir jou vir enige iets.

(Maak geen fout nie, as jy werklik berou het oor jou gedrag, is die J-woord nie altyd so maklik nie. Ek is jammer dat ek … word ongelukkig te dikwels opgevolg met maar jy …). Uiteindelik is ons maar net almal mense. Mense met foute.

Love all, trust a few, do wrong to none.  ~ William Shakespeare

Jy is spesiaal? Regtig?

The delusion is this: “We’re chosen, special and enlightened, and only we have The Truth.”

Frank Schaeffer het dit gesê, dit is die tema van Michael Shermer se boek, The believing brain.

Soos ‘n vriend elders sê: Dit is waarom religie so onsterflik is – dit verleen heilige sanksie aan jou verkose “Waarheid”.

Maar dit geld ook vir ander goed. Sport. Velkleur. Seksualiteit. Skole. Universiteite. Elke groep dink hy is spesiaal, meer spesiaal as Die Ander.

Hierdie konsep word gebruik om kinders van heel jongs af aan te hits en op te rui by skolesport. Is daar ‘n lyn tussen gesonde mededinging en die persepsie van mag, meerderwaardigheid en grootsheid wat so gekweek word?

imageHierdie geval van spesiaal-wees en elke mens wat dink hy is die uitsondering, kom in elke aspek van ons lewens uit. Om ‘n belaglike voorbeeld te noem, met ons gastehuisbedryf, dink soveel mense inkom en uitgaan tye, asook die geen-troeteldiere beleid, geld vir ánder, self is hulle die uitsondering.

Pleks van ‘n gevoel van eenheid en samewerking laat ontwikkel, leer ons wedywering met en verwydering van mekaar.

Ons is álmal spesiaal, maar nie een mens of groep is meer spesiaal as ‘n ander nie. Elke mens het sy eie waarheid.

Equality is the soul of liberty; there is, in fact, no liberty without it. –Frances Wright

Dankbaar? Regtig?

Soms as mens skielik ‘n eenvoudige konsep bevraagteken wat maar altyd deel van jou woordeskat was, kry dit heeltemal ‘n ander soort diepte as jy werklik daaroor dink. So het ek vandag teenoor iemand genoem dat ek geen rede het om te kla oor my lewe nie, maar my seëninge moet tel. En dankbaar moet wees. Dankbaar teenoor wie? Is dankbaarheid nie maar ‘n oorblyfsel van Calvinistiese indoktrinasie nie?

Elke persoon is tog in beheer van sy eie besluite? As kind is jy uitgelewer, maar as grootmens het jy tog keuses? Deesdae is daar die tydskrifartikels, selfhelp boekies en mooi meme’s, pseudo-intellektuele goedjies, popsielkunde en filosofiese gedagtetjies wat  erger indoktrinasie is as die Calvinistiese tipe.

Het ons nie geleer om onsself kunsmatig te laat paai deur daardie “dankbaarheidsopdrag” nie? Skuldig voel wanneer ons ontevrede of onvergenoegd voel met ‘n aspek van ons lewens nie? Sou dit nie beter wees as ons eerder mekaar aanmoedig om ons lewens realisties te bedink en aktief te wees in die proses en bereid wees om te werk en aanpassings te maak nie? Dit sou ook help om voldoende aftstand te kry van jouself, sodat jy jou motiewe en gedrag meer onbjektief kan bekyk, die emosie skei van die realiteit.

Is dankbaarheid  nie ‘n maklike manier om verantwoordelikheid vir jou eie beluite te ontkom op ‘n manier nie? Of is dit ‘n gelate aanvaarding van jou omstandighede, sonder om werklik eienaarskap van jou lewe te neem?

Iemand het my vandag met een magtige sin ‘n enorme guns gedoen. En dis hoegenaamd nie ‘n geval van skielike ondankbaarheid of ontevredenheid met my lewe nie, eerder die teenoorgestelde, van wakkerskud om self verantwoordelikheid te neem vir my eie gemoed. Al weet ek hoé goed dat niemand anders verantwoordelik is vir my geluk of gemoed nie, het hierdie nou net bietjie geskuif aan my eie perspektief.

Ek het steeds ‘n baie diepe waardering vir, en bewustheid van my eie omstandighede, en leef die gevolge van my keuses oor die jare.

Is dit nie wonderlik hoe dit ‘n mens se gemoed kan kalmeer as jy deur ‘n skielike insig dit regkry om anders te begin dink oor iets nie? Sonder dat ‘n enkele ander ding werklik verander het.

 

 

 

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 1 026 other followers