Vandag het iets met iemand gebeur wat my laat terugdink het aan die jare 70 toe ek per ongeluk met ‘n smokkelbende in die tronk deurmekaar geraak het.
Elke familie het mos maar sy swartskaap, en so was dit ook met my (eks)man se neef Jock. Of Jokkie het sommige mense hom genoem. Hy was ‘n liewe mens, slim en met ‘n goeie humorsin, maar ongelukkig nie baie lief vir ‘n stabiele lewe en werk nie. Hy was ‘n kleurryke figuur en ons was almal eintlik baie lief vir hom. Almal het altyd sy stories geniet en my konserwatiewe pa was net so lief vir hierdie man wat ‘n tipe lewe gelei het, bitter ver van sy eie verwysingsraamwerk.
Of hy nog lewe weet ek nie, maar klaarblyklik het hy later jare rustiger weë bewandel. Hy was ook die enigste mens vir wie ek ooit in die tronk gaan besoek het. Ek dink hy is die enigste van my vriende/familie wat ooit in die tronk was. Boring lot, ons klomp.
Nou neef Jock was ook my eerste kennismaking met dagga, en hy het eenmaal gevra ek moet vir hom die sakkie goed hou. Ek was verskriklik preuts en ongelooflik naïef en wou die goed weggooi, maar was te bang. Sê nou dit spoel nie weg in die toilet nie? Sê nou iemand kry dit in die vullissak? Sê nou ek brand dit en iemand ruik dit? Uiteindelik het ek dit so goed weggesteek, ek het dit nie eers weer gekry toe ons getrek het nie.
Nietemin het daar iets gebeur waarvan ek nooit die volle detail gehoor het nie, maar neef Jock, saamgesperste dagga in die vorm van stoelpote, en ‘n sekere meneer Desai van Durban was betrokke. Op daardie stadium het hy gereeld by ons gekuier en ek vermoed die smokkelbende wou hom gebruik om iets in die tronk te kry.My (eks)man het vir die destydse Gevangenisdiens gewerk. Een aand het ons op die Gevangenisterrein by vriende gekuier. Die kinders was skaars rustig en die Canastakaarte uitgepak, toe is daar ‘n klop aan die deur, en die Hoof van die Gevangenis en nog ‘n amptenaar kom waarsku ons, dat ons liewer nie moet huis toe gaan die aand nie, meneer Desai se manne wag vir ons by ons huis in Pretoria-Noord. Genadiglik was my (eks)man ‘n goeie mens wat die gevangenes menswaardig behandel het en hulle was lief genoeg vir hom om ‘n boodskap uit die tronk uit na ons toe te kry. Kyk nou net hoe het hulle van al ons bewegings geweet!
As jy nog nooit by ‘n vriendin onderklere geleen het nie, wel ek het. Ons vriende het bloot nagklere en klere en nuwe tandeborsels uit die kaste gehaal, en so het ons vir drie dae by hulle gebly. Die kinders het gelukkig altyd ‘n skoon stelletjie klere in hulle kleuterskooltassies gehad, en ons het een in die was en een aan die bas gehad.
Na drie dae het die polisie laat weet ons kan nou huis toe gaan, maar hulle het ‘n polisieman vir ‘n week by ons in die huis laat slaap.Ek wonder steeds wat was regtig die storie. En of neef Jock dit ooit onthou, want wat vir ons verskiklike drama was, was waarskynlik vir hom net nog ‘n dag.Mag elke mens wat ek ken vannag veilig slaap, of jy nou bewaak word, of nie.
There is nothing more important than a good, safe, secure home.
Rosalynn Carter