Oktober. Borskankermaand.
Woensdag
Het ‘n vreemde vrou al ooit vir jou uit haar kar geskree, Jy moet jou borste laat ondersoek? Vreemd soos dit mag klink, het dit vandag met my gebeur. Sy moes die skok of ongeloof van het-ek-reg-gehoor op my gesig gesien het, want sy het in die middel van die pad gestop, haar karretjie flink in tru-rat gegooi, en harder geskree. Jy moet jou borste laat ondersoek. In die biblioteeksaal.
Ek was verstom, maar het by die biblioteeksaal ingeloer, en is summier nadergeroep. Twee vroue wat ek ken, het aanvaar ek weet waaroor dit gaan, een het my naam op ‘n vorm begin invul, en die ander een het gesê dokter sal nou by jou wees, kom ons neem solank jou bloeddruk.
Soos ‘n lam ter slagting, het ek my laat lei, uitgetrek en gelê vir die ondersoek. Toe die dokter voel, weer voel, frons en my saggies aan my arm vat, het ek geweet. Sy het my linkerhand geneem, dit op my regterbors amper onder my arm gesit, en saggies gesê, voel. Voel so met plat vingers, heen en weer.
Ek was lam van skok, half lighoofdig, maar kon nog nie huil nie. Ek weet ek gaan moet sterk wees vir die volgende ruk, want die dokter het aangedring dat ek hierdie week nog by ‘n sjirurg uitkom.
Genadiglik het ek gaste vir ete gehad, en kon ek my besig hou met die kos, en skoon lakens op die bed vir die gastekamer. Maar nou is dit laat-aand, almal slaap, en nou is die besef van wat moontlik kan gebeur, besig om binne te dring.
Dis toe ek netnou die pakkies met my inkopies, my vrolike nuwe blomromp wat ek vandag gekoop het wegpak, wat dit my tussen die oë slaan. Toe ek vandag die bloesies aanpas in ‘n winkel waar die XXXL skaars oor my kleindogter se maer kinderlyfie sal pas, het ek gedink: Móét ek sulke groot borste hê waaroor niks pas nie?
Maandag
‘n Vrou se naam moes Wag gewees het. Ons wag ons lewens om. Ons wag om groot te word, om te trou, om kinders te kry, wat ons dan ook VerWag.
Vandag Wag ek weer. Elke keer as die foon lui, dan begin my hart klop, en my kop suis. Wie sou ooit kon raai dat ek die dag sou uitsien daarna om ‘n mammogram te kry? Dat ek nie kan Wag om te hoor om ‘n afspraak by ‘n sjirurg te kry nie?
Ek is baie angstig, wat nie help nie. Ek het my doodgelag vanoggend, so half histeriese laggie. Ek sê vir my man, daar is net 2 alternatiewe. Dis Iets. Of Niks. Hy lag toe, en vra nou hóé het ek hierdie briljante stukkie insig gekry? Toe lag ons maar altwee, maar kort daarna het ons weer gesels oor toetse op jou pad, wat jou laat groei. As ek iets moet deur, gaan dit wees omdat dit so moet wees, en ek is bly ek kan saam met hom daardeur.
Dinsdag
Elke keer as ek die histerie in my voel opwel, dink ek aan ‘n goeie vriendin se raad: Moet glad nie verder dink as die volgende ding wat moet gebeur nie. Dink net tot by die volgende doktersafspraak, mammogram, of wat ookal. As jy dinge vooruit gaan loop, of te ver bekommer, gaan dit jou so oorweldig dat jy histeries gaan word. ‘n Doktersafspraak vanmiddag of more is heel hanteerbaar, maar die gedagte aan kanker is onhanteerbaar. Dink aan wat jy kan hanteer.
Ek is oortuig dat ek more se doktersafspraak en mammogram sal kan hanteer. Die son gaan more-oggend opkom, en hy gaan more-aand onder.
Dit was regtig die tipe raad wat ek nou nodig het. En die sagtheid in my man se oë as hy sê, As iets op jou pad kom, dan is dit ook op my pad. En dan hanteer ons dit. En ons onthou dat niks buite die blueprint staan wat vir ons in hierdie lewe uitgelê is nie.
Vandag is ek so dankbaar vir ‘n ander goeie vriendin wat alles gedoen het om die wêreld om te keer om vir my so vinnig ‘n afspraak te kry. Ek glo aan die regte ding op die regte tyd, en daar is ‘n rede waarom dit alles so uitwerk.
Woensdag
Ons was douvoordag op vir die rit Kaapstad toe, die Universe wou seker maak dat die wekker en die BlackBerry se alarm nie faal nie, en het die buurman se karalarm laat afgaan 15 minute voordat ons wou opstaan.
Die dokter wat ek gesien het, was so deernisvol toe sy toe die knop voel, en amper apologeties toe sy die prentjie op die verwysingsvorm teken van Lump palpable R lower lateral.
= = Hierdie is die mammogram. Om daaroor te skryf, is om dit weer te herleef. Skip. Next.
Wag
Everything is fine. Come back in two years!
Kon dit wees? Wat dan van die twee dokters wat ‘n knop op dieselfde plek voel? Ek self kan dit dan duidelik voel? Die dokter wat reël vir ‘n nood-mammogram sodat ek dieselfde middag weer na haar kan terugkom sodat sy die nodige kan reël? Wat ookal Die Nodige behels? My angsvlakke wou nie daal nie, en die dokter het ook ongelowig gelyk toe ek haar die boodskap bring.
Sy het self die verslag gaan trek, met die professor gesels en my gebel vanoggend.
Everything is fine. Come back in two years!