Tags
‘n Suurlemoen is darem ‘n lieflike vrug, hy is glad en mooi en kleurvol, maar hy staan sy man. Sy skil se olie is pikant, sy sap het byt. Demp hom met ‘n strooisel sout en so ‘n skyfie suurlemoen met skil en al na ete is heerlik. Gegewe jy het dit met jou eie hande in jou eie kombuis gesny bygesê, ‘n moeë suurlemoenkwart in ‘n restaurant tel nie.
Omdat ons baie Gremolata eet, het ek dikwels meer suurlemoen as skil en dit is teen my grein om goed net weg te gooi. Verál as daardie suurlemoen-sonder-skil in ‘n plastiekbakkie in die yskas beland en daar bly lê totdat ek skuldig voel as hy blou begin skyn en dit dan weggooi.
Nou ja, boeremeisies se deug word gelukkig nie meer gemeet aan deeg wat goed rys, of spensrakke vol blink rye ingemaakte vrugte en konfyt nie. Ons kook nou vir die lekker.
As daar ‘n suurlemoen of twee is met afgeskraapte skil, sny ek dit deesdae in dun skywe. Pak in ‘n wyebekfles en strooi growwesout oor elke lagie. Sny ‘n paar knoffelhuisies middeldeur en pak tussenin. Vul met olyfolie. Vergeet dit nou vir ‘n paar weke in die yskas.
So ‘n skyfie gepekelde suurlemoen is heerlik by hoender of vleis. Drup van die olie (dit word dik in die yskas) oor enige kos of slaai. My ontbyt was vanoggend ‘n slaai gemaak van ‘n avokado in blokkies gesny, twee skywe van hierdie suurlemoen in klein stukkies gesny, gekrummelde feta daaroor, ‘n paar olywe, bietjie ekstra van die olie en ‘n strooisel tuisgemaakte Dukkah.
Probeer dit. Jy sal altyd twee bottels in verskillende stadiums van beleënheid in die yskas hê as jy dit eers geproe het. Dit hou vir maande.
Laat weet my oor ‘n paar weke hoe dit proe!