Daardie oomblik wat jy aanklank vind by iets of iemand, laat mos jou hele lyf in ekstatiese verrukking, dat jy één voel met die lewe en die Universe.
So was daar in my lewe heelwat boeke, flieks en plekke wat my daardie gevoel laat kry het. Dit is daardie boeke wat jy onthou en herlees, quotes uit die fliek onthou maar steeds nie omgee om dit weer te kyk nie. Plekke waar jy voel, hier wil ek woon, hier sou ek kon woon.
Flieks en boeke wat afspeel in die Suide van Amerika het my altyd bekoor, en die name van stede soos Savannah het net daardie spesiale klankie. Dan ook boeke oor slawe en hulle nageslagte uit daardie tydperk. ‘n Paar van die boeke (en gelyknamige flieks) wat hierdie effek op my gehad het, was: Fried green tomatoes at the Whistle stop cafe, Prince of Tides, Beach music, The Help, Secret life of bees, Midnight in the garden of good and evil en natuurlik die onvergeetlike Gone with the wind. Almal in die deep South.
Om die voorreg te hê om te reis, verryk my lewe op hierdie manier. Knap voordat ons die reis na Georgia en South Carolina beplan het, het my man gesê ek moet tog John Berendt se boek, Midnight in the garden of good and evil lees. Ek het gedink, ja-ja, en dit het maar op my Kindle bly lê, maar net totdat die reisplanne begin werklikheid word het. Toe moes ek opsluit ook die fliek kyk. En toe was dit die één ding wat die hoogste op ons al twee se proioriteitslysie was. Bonaventure se begrafplaas met Johnny Mercer se bankie, Bird Girl se standbeeld, en veral die Mercer House, waar Danny Hansford aan sy tragiese einde gekom het. Die boek en fliek is gebaseer op ‘n ware verhaal.
Ons het ook die reisplan so aangepas dat ons by Juliette kon aangaan, waar die Whistle stop cafe nog steeds Fried green tomatoes bedien, waar die fliek geskiet is. Toe ons daar sit en wag vir einste Fried geen tomatoes, was ons al twee vir ‘n oomblik oorweldig deur emosie. Om daar te kon sit! Om dit fisiek te beleef wat ons voorheen emosioneel aangetas het… Dit het ons enigste selfie vir die reis regverdig.
Daarna was Mercer House aan die beurt, die van julle wat die boek gelees het, sal verstaan hoe dit gevoel het om in die einste lokaal waar Jim Williams sy jong minnaar Danny geskiet het, en later self ook gesterf het, te staan.
In Bonaventure Cemetery wat ‘n groot rol speel in die boek, het ons nie net op Johnny Mercer se bankie gesit nie, maar meer stories gekry. Onder andere klein Gracie Watson se graf. En Bird Girl se oorspronklike beeld, het ons in ‘n kunsgalery gesien.
Oral in die Suide, is tekens van Margaret Mitchell. En dit het my koue rillings gegee om in haar slaapkamer te staan, om my naam te tik op toetse wat vasslaan, op die tikmasjien waarop Gone with the wind getik is. (Die toergids het ‘n vrywilliger gevra.) Ongelukkig was die Margaret Mitchell museum in die dorpie Jonesboro, gesluit op die dag wat ons daar was. Maar in Atlanta het ons in haar kombuis gestaan waar sy gekook het, op haar spore deur die huis haar energie ingeasem.
Die hele kuslyn van Georgia en South Carolina is jy die hele tyd bewus van die marches, wat so ‘n groot rol in die onvergeetlike Prince of Tides speel. So eie aan die Suide.
Ons was ook by Wormsloe Plantation waar Forrest Gump gedeeltelik geskiet is, en in Savannah by Chippewa Square waar hy op die bankie gesit en gesê het: Mama always said life was like a box of chocolates.
Mens voel so onbeduidend as jy jouself fisiek midde-in hierdie kuns bevind, wat sonder dat jy voorheen geweet het waarom, jou emosioneel geraak het. En om dit te beleef, om een te word met die emosie en die Déjà vu. Dan voel jy vir een oomblik, jy ken jouself, jy is jouself, jy behoort. Jy is een met alles.
“My wound is geography. It is also my anchorage, my port of call.”
― Pat Conroy, The Prince of Tides