Koskalender

“Dis vreeslik lekker!”
“Jislaaik, waar kry jy hierdie resep?”
“Jy moet neerskryf wat jy gedoen het.”
“Wat is jou geheim?”

Sulke tipe kommentare is lekker vir enige kok om te hoor. Die een vraag wat jy my nooit eintlik kan vra nie, is: Wat is jy besig om te maak? Die manier waarop ek kook, is maklik. Kyk wat is in die yskas, pak dit op die tafel en kerf ʼn ui. Begin dan kap en kerf en kook.

Wat jy nie in my kaste sal kry nie, is pakkies en sakkies en dergelike chemiese goed. Ons eet vars, vleis, vis, hoender, eiers, kaas, lekker botter, vars groente en vrugte. Souse maak ek self, kruie pluk ons buite. Dit is eintlik die heel maklikste om so te kook, jy kook wat vars en verkrygbaar is, waar jy is, met wat jy het.

Mense wil gedurig hê ek moet die resep van iets gee, dan kan ek nie, want daar is nie ʼn resep nie. Dan vra hulle: Maar skryf neer presies wat jy gedoen het. Ek kook op gevoel, op intuïsie, en ek proe die kos reg. Ek lol ook nie te veel met hoeveelhede nie, ek gebruik maar so na gedagte ʼn bietjie van dit, ʼn knypie van dat, of soveel knoffel as wat jy van hou.

Hierdie week het dit meer as een keer gebeur dat MaanMan aandring dat ek neerskryf wat ek gedoen het, want hy wil bitter graag weer daardie kos op sy bord hê. Normaalweg begin mens ʼn dagboek of Kalender op 1 Januarie, op of ʼn baie betekenisvolle dag soos ʼn spesiale verjaarsdag, maar hierdie kalender begin sommer vandag, 16 /6/17, so op ʼn Vrydagoggend. Waarom dan nie? Laat hy begin so onkonvensioneel soos my kokery …

(Al die lekker resepte is by die Index)

1 thoughts on “Koskalender”

  1. Doen ook die intuïsie kook ding, maar my intuïsie moet baie beperk wees want ek kook baie min

    Like

En? Wat dink JY?