As kinders het my pa sekere dinge in die kombuis gedoen. Perskes skil, appelkose oopbreek vir konfyt, boontjies kerf vir vries, biltong sny, chips bak, eiervrugskywe in n degie bak en les bes, ook vetkoek bak as daar die dag geknie is. Heerlike groot goudbruin vetkoeke, met so ‘n bros korsie, in varkvet gebak. My hele lewe lank wou ek weer sulke vetkoeke eet, maar myne het net nooit dieselfde gesmaak nie.
Sedert ek getroud is het ek probeer – in die 1980’s die deeg van Gaby’s in Sinoville waarvoor ons van Dorandia af gery het, die Spar se deeg, my eie-kniepoging met kitsgis, niks was presies dieselfde nie.
En toe kom Jans en Hilda met hulle BroodStories in Kleinmond. Suurdeegbrode, gemaak met stoneground meel.
Elke keer as ek my tande so wegsink in ‘n suurdeegbroodjie dat die tandmerke so in die plaasbotter bly sit, dink ek hoe ek my as kind geskaam het hiervoor. Die ander kinders het lekker sagte spierwit brood met rooi konfyt uit ‘n blik gekry. En óns moes tuisgekookte appelkooskonfyt op suurdeegbrood met harde korsies eet. Of gemaalde kaiings! Ek het my doodgeskaam vir die gesonde koringkleur van stoneground meel wat ons self by Wenholdt se meule gaan koop het.
En toe koop ek mos ‘n bolletjie Broodstories-deeg. Suurdeegdeeg. Gemaak van stoneground meel. En ek skep van my kosbare houer varkvet wat ek hou vir gebraaide aartappels in ‘n pan. En toe … Toe verskyn daar vetkoeke soos uit my kinderdae. Goudbruin, bros met lekker rysgate, wat lyk soos die koring waarvan meel gemaak word. Presies net so.
Ek wou huil toe ek die eerste hap vat, net so sonder iets by. Die volgende een het ek laat afkoel, en geëet met lekker dik botter wat nie insmelt nie, Marmite en gerasperde kaas. dit was steeds heerlik bros. En die laaste een vuurwarm uit die pan, net met rou heuning, so ingesmelt. Toe was daar nie meer tyd vir foto’s nie, en buitendien was my hande vol gesmelte botter en heuning wat drup.