Woorde kan soms leeg wees, hol. Ons praat sonder dat ons dink, sonder dat ons dit bedoel. Ons eet en ons drink en ons kuier, en ons wens mekaar Geseënde Tye toe. Bedoel ons dit wérklik? Hoeveel mense met al daardie pragtige kranse en kerse en bome en geskenke koester ‘n grief teenoor iemand, of leef in onvrede met ‘n kind/ouer/familielid?
‘n Liewe Facebookvriend se vrou is hierdie week oorlede, nadat sy onverwags en skielik siek geword het. Hy skryf: Maandag het dit uitgekom dat sy die weke vooraf verskeie familielede wat ‘n vete met my skoonma het (hulle is een moerse familie), gebel het om hulle te vra om dinge met my skoonma reg te maak voor hulle langs ‘n oop graf met verwyte staan. Een was haar eie broer met wie sy ‘n paar weke gelede ‘n afspraak gehad het om met hom hieroor te praat, maar sy kon dit nie nakom nie. My skoonma en haar seun het ure voor sy gegaan het dinge uitgeklaar.
Sy vrou het, soos so dikwels gebeur, ‘n diep wete vooraf gehad dat haar tydjie om is (al was sy blakend gesond), en sy het vrede bewerkstellig tussen mense, ure voordat syself gesterf het. Dit was toe haar éie oop graf waarvan sy gepraat het.
Nog ‘n Facebookvriend skryf oor ‘n boekeredakteur wat vanoggend oorlede is: Daar is nog te veel waaroor ek met jou wou praat en ek verwyt myself dat ek nie meer tyd ingeruim het daarvoor nie want ek het geweet die lewe is net ‘n asem lank.
Wie van ons het nog nie met so ‘n tipe selfverwyt gestaan nie? Nou waarom moet ons ook altyd wag dat iemand moet doodgaan voordat ons vetes begrawe en tyd inruim vir mekaar?
(Indien daar iemand is wat vir my tyd wil inruim, ‘n rits gevriesde klam handdoekies wat ek om my nek kan hang sal nou my lewe red in hierdie doodse Desemberhitte)
Dis alles goed en wel, dat ons vir mekaar goeie wense gee. Maar wat van jouself? Wat wens jy vir jouself? Jyself verdien ook al die goed wat jy vir ander wens! Jy verdien ook die geskenke wat jy vir ander koop. Gee is lekker, maar onthou ook om aan jouself te gee. Al is dit net ‘n tjoklit. So maak jy weer jou eie kragte bymekaar om volgende jaar weer jou hart en siel van nuuts af te gee vir jou liefstes.
My wens vir jou (en vir my) en vir almal om jou is bloot: Vrede. Vrede in jouself, jou gemoed en jou hart. Vrede vir almal om jou.
Vrede op aarde, en in die mense ‘n welbehae.
Geseënde Kersfees, aan almal wat tot hier gelees het. Ook aan myself.