Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. Vandag is vir my so effens weemoedig, ek het besluit om nie my Boekemakranka domein te hernu nie. Dit het ‘n lang pad gekom, van die tyd toe ons op ‘n gespreksforum oor boekdinge saamgesels het, voor Faceboek nog bestaan het. Boekemakranka – ‘n Virtuele Leeskring. Dinge verander, en toe Tapatalk vir Lefora waarop die forum geloop het oorgekoop het, het die gewildheid van die forum ook beteken dat dit ‘n teiken geword het van die spammers.
Daardie Boekemakranka wat met sy Leeslyste en al wat my ‘n paar maal op RSG en Whale coast radio as gas gehad het, het my laat besef daar is mense wat nie ‘n gesig vir TV, of ‘n stem vir radio het nie. Ek onthou die absolute horror toe ek na die tyd luister na my eie stem. My mense het gesê dis maar hoe ek klink en ek het gedreig om nooit weer ‘n woord te praat nie. Een goeie ding – ek het gehoor hoeveel keer ek die woord ongelooflik gebruik, en ek vermy dit nou heeltemal!
Verandering is die een konstante in die lewe, en so het dinge en platforms verander. Ons het elders op Facebook en op Goodreads oor boeke begin gesels, en Boekemakranka het koers verander en begin om e-boeke te verwerk en te verkoop, aan die heel begin van die e-boekbedryf. Boekemakranka het die heel eerste e-boek, Viersprong, in Afrikaans op Amazon verkoop, voordat die groot uitgewers nog aan boord gekom het. Daarom bied ek graag aan julle vir ‘n beperkte tyd, die kortverhaalbundel Viersprong, teen afslagprys! Koop dit op Amazon, of in ePub op my persoonlike blad, http://trisahugo.co.za/. Daar is ook ‘n baie spesiale aanbod op My Kort vir jou Sop, Boekemakranka se liefdadigheidsbundel wat al soveel borde kos vir behoeftige bejaardes gekoop het. Elke sent opbrengs van hierdie twee e-boeke word aan voedselprogramme in ons dorp geskenk. Die gedrukte Sop-boeke soos dit bekend geword het, is ongelukkig reeds uitverkoop. As jy Viersprong in ePub-formaat teen R49 koop, kan jy My Kort vir jou Sop vir slegs R5 koop. (Jy betaal met jou kredietkaart op jou eie bank se encrypted platform en veiligheidsisteme deur PayFast.)
Mens maak mos ‘n kind groot en trou hom af, maar daar is altyd ‘n klein kolletjie van jou hart vir daardie kind. Boekemakranka was goed vir my en vir ‘n klompie skrywers en ek neem met heimwee afskeid van die domein, maar die naam leef voort as ‘n submenu op my eie blad.
“I believe that everything happens for a reason. People change so that you can learn to let go, things go wrong so that you appreciate them when they’re right, you believe lies so you eventually learn to trust no one but yourself, and sometimes good things fall apart so better things can fall together.”
— Marilyn Monroe