Dis ‘n bitter, bitter gevoel as jy nie meer in touch met jou omgewing voel nie. Ons dorp se demografie het dramaties verander, veral die afgelope drie jaar. Dis goed en reg so, dis ‘n natuurlike verloop van groei en verandering. Die jonges beoefen beroepe wat ek nie geweet het bestaan nie, hulle praat ‘n taal wat vir my vreemd klink. Ek verstaan nie hulle grappe op Facebook nie.
Dit is alles goed en wel dat jonger mense die rolle oorneem en dinge doen, dankie tog daarvoor, want ek is definitief nie meer lus vir alles en reëlings maak en rondry nie. Tog is dit ‘n weird gevoel om te sien dinge gebeur om my waarvan ek nie geweet het nie.
Nou dink ek, 21 jaar gelede was ek die jonge hier. Ek het gereël en georganiseer en deelgeneem. Hoeveel mense het daardie tyd dalk so gevoel weens my toedoen?
Ons is op die drumpel van ‘n nuwe fase in ons lewe, waar ek weer soos die jonge voel tussen die oueres.
Vanmelewe (dankie ouma, ek hou van die woord!) kon ons skool toe gaan as jy in die eerste helfte van die jaar ses word. Ek het dit net gemaak en is op vyf-en-’n-half skool toe omdat my ma my gekerm by die huis nie meer kon verduur nie. Ek wou lees.
Die eerste dag is ek sommer met die bus skool toe, met streng vermaninge aan my ma om nie te tjank as sy my gaan inskryf nie. In die klas was ek bitter ontsteld toe net klei uitgedeel is. Paula het dit nog uitgedeel, sulke klipharde vaal klei. Hulle het my toe maar ‘n paar weke later in Graad 2 gesit. Gespring het ons dit genoem. Geskip.
Toe was dit reg.
Maar ek het dit vir die res van my lewe berou.
Het jy enige idee hoe dit voel…
… as jy nog sokker speel en jou maats begin agter hulle hande giggel?
… as jou maatjies almal bra dra en jy wonder hoekom bly jy plat?
… as jou maatjie een goeie dag voor jou ‘n pad uithaal en jy absoluut geen idee het wat dit is nie?
… as die hoof die die eerste dag in die hoërskool vra, wie is twaalf, hande op. ‘n Klompie. Dertien? Die meeste. Veertien? Nog ‘n klompie. En ‘n paar vyftienjariges. Ek dan later kwaad raak as sy getalle nie klop nie en hy brul: wie het nie sy hand opgesteek nie?
Bang handjie. Ek meneer.
Hoekom nie? Hoe oud is jy?
Elf meneer
en in die aarde wegsak, voor 1556 kinders
… as jou vriendinne vry en later van gemeenskap praat (dis hoe ons seks genoem het)
… die dag (al as student) toe jou vriendinne jou nie wou saamvat iewers heen nie, omdat hulle ‘goed gaan doen waarvoor jy nie reg is nie’. Ek weet nou nog nie waarvoor ek nie reg was nie. Oorslaap by die mans, dagga rook, drink? Dit pla my.
… as jy jou lewe lank die odd one out was, omdat jy nie emosioneel opgewasse was vir jou portuurgroep nie?
… as jy as grootmens jou lewe lank probeer kompenseer deur te wil wen?
Miskien moes ek oorkompenseer, maar ek het geleer, soos Ned Miller so mooi gesing het:
Do what you do do well boy
Do what you do do well
Give your love and all your of heart
And do what you do do well
So as ek nou weer op 67 die jonge tussen die oues gaan wees, gaan ek dit góéd doen, voordat ek wegdryf soos ‘n seepbel in die wind en niemand meer van my weet nie.