Tags

, , ,

Wat van ‘n leksel bakpoeier op jou tong? Altemit ‘n koppietjie droë meel? Het jy al ooit geproe hoe bitter is kakaopoeier net so? Dit sit mos so in jou verhemelte vas. Maar gooi hierdie klomp slegte goed bymekaar, sit hom in die oond, en siedaar, ‘n lekker tjoklitkoek.

So voordat ek weer gaan kla oor iets slegs in my lewe, (Dankie Son) – gaan ek eerder dink aan hoe al die klippe in my pad en moeilike goed saam die tjoklitkoeke van die lewe maak. Ironies dat hy nog eers hitte ook moet kry, of hoe?

Maar dan moet die mengsel net reg wees nè?  Net genoeg soet ingemeng – te veel van enige bestanddeel en die hele ding trek skeef of val plat of rys te hoog of iets.  Die ander snaakse ding is dat jy met dieselfde bestanddele (in die regte verhoudings) soveel verskillende goed kan maak – dit bly maar eiers, botter, meel,en  melk  – en jy kan ‘n scone kry, of ‘n pannekoek, of ‘n lekker tjoklitkoek!

Maar gepraat van eiers:

Wat word van eiers vandat eiers nie meer eiers is nie?!? Bak jy hom, is die wit so snaaks skuimerig en pof dit amper soos ‘n omelet. Roer jy hom, lyk dit of daar bakpoeier by is. Kook jy hom

*Sluk eers weer*

Kook jy hom, is die geel al gestol en hard, maar die wit nog drillerig. Met so toutjie in. Dit was tog altyd anders om? Tot 7e Laan het gepraat van die wit hard en die geel sag, dogter. So was eiers mos altyd. Kook hom vir 5 minute en jy het ‘n perfekte sagte eier. Met die wit heeltemal gestol, en die geel sag in die middel. Maar nie meer nie.

Wat het verander?!?

Gelukkig kry ek deesdae ‘n enorme migraine as ek soveel as ‘n happie eier eet, so ek hoef myself nie bloot te stel daaraan nie, maar MaanMan is lief vir sy brekfis eiertjie.

Ongelukkig het koek en baie pasteideeg ook eier in. Of moet ek sê gelukkig? Want ek pas sedert my eier-allergie weer in voorverlede jaar se no 12 jean!

Goed en sleg, sag en hard. So is die Yin en die Yang maar altyd onafskeidbaar.

(Vergewe my as hierdie nie vir jou nuut is nie, dele daarvan kom uit ‘n ou LitNet blog)