Rosigemaryn het so ‘n lekker stuk geskryf oor sweterige note, toe neem dit my direk terug na die tyd wat ek ook (weliswaar net 10 minute) gewerk het in Die Bedryf, waar haar sweterige note vol glitters vandaan kom.
‘n Ruk gelede het ek ‘n lys gemaak van al die plekke waar ek al gewooon het. Dit het my geïnspireer om ‘n Timeline te begin, as deel van my notas wat ek maak sodat my kleinkind eendag sin kan maak uit ouma se lewe. Sodra ‘n ding ancient is wil almal mos weet daarvan. Wie van julle is nie nuuskierig oor julle ouma- en oupagrootjies se lewens nie?
Terwyl ek toe nou die notas maak vir die Timeline, besef ek watse snaakse werke ek al gedoen het, en toe is ek weer terug in die verlede in, toe ek kinders grootgemaak het, nog nie klaar studeer het nie (elke stuk papier met ‘n rooi stemp het ek deeltyds gedoen) en na MaanMan se verplasings.
Lag maar, maar ek het onder andere al die volgende gedoen:
- Vrydae lone uitbetaal by ‘n motorvervaardiger se fabriek, sulke bruin koevertjies met kontant. Dan het ons in so hokkie deur tralies die rye met honderde mense se ID’s en werksnommers gecheck, en hulle lone oorhandig. Nooit ‘n dag se moeilikheid gehad nie.
- Dan was ek een van hierdie vrouens wat jou voorkeer met ‘n vraelys by die supermark, om te vra waarmee jy jou wasgoed was, en watse sop jy koop. Hoeveel jy verdien. Toe huise nog nie so erg omhein was nie, het ek ook aan jou deur kom klop. Ja, ja, ek weet, dis lastig, maar in die groter prentjie maak elke vraag sin. Dit het ek ook maar later besef toe ek geleer het van Navorsingsmetodologie.
My lekkerste werk ooit was die kwekery wat ons bedryf het, van scratch af begin met net basiese tuinkennis.
Jy mag dalk dink hierdies hierbo is snaakse beroepe, maar die vreemdste een het ek uitgelaat. Ek het al in ‘n ‘streelkasteel’ gewerk…
Streelkastele fassineer my. Verskriklik. Dit hou vir my ‘n vreemde bekoring in. En ek was al in twee van hulle.
In 1995 het ek die jaar ‘n vreeslike gemors van my werk gemaak. Baie geld ook verloor. Die RGN se kantoor in Johannesburg het gesluit, en ek moes terug Pretoria toe. Daarvoor het ek nie kans gesien nie, en iets anders begin soek. Wát my besiel het weet ek nie, maar ek het by Liberty Life begin werk as Finansiële Konsultant (lees polis-smous).
Miskien was ek net lus van ‘n verandering en ek het die lekker mal, eksentrieke lot mal navorsers verruil vir deftige pakkies, ‘n laptop en ‘n selfoon. Onthou in 1995 het die laptops R20,000 gekos, en die state-ot-the-art Ericson selfoon moes jy koop, dit was nie deel van die kontrak nie. So lekker swaar swarte, met ‘n aerialtjie. En nie enige ou het toe met een rondgeloop nie, I’ll have you know.
Nietemin het my smousery my een goeie dag by ‘n Streelkasteel uitgebring, een van die meisies daar wou ‘n polis uitneem, en sy het gevra of ek sommer soontoe kon kom, pleks van huis toe. Uiteindelik het ek heerlik gesels met die girls daar. Hulle het ‘n huis gehuur naby Cresta, en sake daar bedryf. Oulike meisies, gewone vroue. Dit was vreemd, hulle het nie soos terte gelyk nie, hulle was gewoonweg aangetrek. Ek dink my business suitjie se romp was die kortste van almal daar. Een meisietjie was so onskuldige plattelandse enetjie, ek het vir haar ‘n onderhoud gereël vir ‘n admin pos elders, maar die salaris was te min, sy kon nie daarop vir haar en haar kind sorg nie. Dit was hartbrekend om haar daar te los.
Die groot grap het gekom toe die een meisie my verwys het na haar vriendin in dieselfde besigheid wat ook ‘n polis nodig gehad het. Julle, toe ek daar by haar kom, is dit – wait for it – ‘n niggie van my, wat ek as kind laas gesien het. Ek het haar herken, maar gelukkig sy nie vir my nie. Nietemin het ons heerlik gesels, bloed is immers dikker as water. Sy was die eienaar van die plek, maar het nie self ‘gewerk’ nie. Haar kinders dink sy is ‘n verpleegsuster wat snaakse ure werk. Sy moes dringend iewers heengaan, en vra toe of ek vir 10 minute die foon kan antwoord. Die foon het net een maal gelui. Dit was ‘n Indiër man wat aangedring het dat hy met my en met niemand anders nie, wil ‘besigheid’ doen. My stem het dit dan vir hom gedoen.
Ek kan dus in alle eerlikheid op my CV sit, ek was eenmaal ook in Die Bedryf. Vir 10 minute.
Dink julle my outobiografie sal verkoop?
Son said:
😆 Ek was vir oomblikke in die begin van jou skrywe onseker oor wat ‘n Streelkasteel is 😆 Sal dit jou diep skok as ek sê dat ek ook een aand toevallig in Kaapstad (as gevolg van ‘n vriendin) in ‘n foonseks besigheid beland het en van nuuskierigheid gevra het om ‘n oproep te hanteer?! Ek bloos nou nog tot in my haarwortels as ek daai gesprek onthou 😯
LikeLike
MaanKind said:
Ha-ha! Gelukkig was jy aan die anderkant van die lyn!
LikeLike
kyker said:
Gits. Hehe.
LikeLike
MaanKind said:
Jeepers creepers….
LikeLike
demoerin said:
😆 Verpleegster wat vreemde ure werk… wel ek neem aan dat uit sekere oogpunte kan dit seker as terapie klassifiseer.
LikeLike
Xena Phoenix said:
LOL!!! 😆 Dit moes seker baie interessant tussen die girls gewees het. Ek het eendag ‘n episode gesien waar ‘n vrou uitvind een van haar beste vriendinne is ‘n prostituut. Sy was baie geskok en wou net bande breek. Ek is meer geneigd om geamuseerd as geskok te wees.
LikeLike
Kameel said:
En al die tyd dink ek MaanKind is so soet soos stroop….. of is dit net die stem?
LikeLike
dirkiedoep said:
Oee! Kyk dit was nou pret…nooit die Maankind geassosieer met ‘n warm klank in haar stem- so onweerstaanbaar nie !!
LikeLike
toorts said:
Absoluut! Klink my jy het dit! Jy’s gebore met dit!
LikeLike
MaanKind said:
Ek weet nou nie of dit ‘n kompliment is nie…
LikeLike
murphy said:
Het jy jou stem laag gemaak: so: “Haaallllooouuuuuu…”?
LikeLike
MaanKind said:
Soos warm karamel, ek sê jou! So laag in my keel gepraat…
LikeLike
Rika Du Plessis said:
Of dit sal verkoop weet ek nie, maar ek het lekker gelees – sommige outydse dinge en werke was soveel interessanter as vandag se alles eenderse goed. Ek glo egter nie daai 10 minute se ervaring gaan jou daai ou joppie kan laat doen nie, hoor, hie-hie, dis net nie jy nie. 🙂
LikeLike
MaanKind said:
DIt was nogal opwindend, hoor!
LikeLike