Baie dankie dat jy by ons oorgebly het. Ons waardeer jou besigheid en wil jou graag weer sien. Ons wil graag ons plekke so inrig dat jy graag wil terugkom, soos die klomp wat gereeld hier kom bly. Ons leer mekaar en mekaar se families en seer en skades en vreugdes ken.
Noudat die lekker vakansieweer voortduur terwyl jy weer terugklok werk toe, word ons oorval met navrae vir akkommodasie vir die res van die jaar. Dikwels verloor die gesprek so:
Gas: Haai, ek is op julle website.
Ek: Ja? Waarmee kan ek help?
Gas: Het julle nog plek?
Ek: Vir wanneer soek julle plek?
Gas: Vir die langnaweek (Uhm watter langnaweek?)
Ek: Vir hoeveel mense soek julle plek? (Belangrik om te weet … Ons het 4-slaper en 6-slaper)
Gas: Ons is omtrent ses
Ek: Hoeveel presies?
Gas: Ek dink agt
Gas: En kinders?
Ek: Daar is so vier
Ek: Jammer, ons sal ongelukkig nie kan help nie… (Hulle wil almal in een 6-slaper instop)
Baie plaaslike mense kom soek plek vir hulle kinders of kuiermense by ons, en is baie geskok dat ons R600 pn vra vir 4 mense in die hoog seisoen. Die kinders wil immers net slaap, hulle gaan amper nooit hier wees of kosmaak nie, hulle soek net ‘n ou plekkie om hulle koppe neer te lê. Miskien ‘n ou braaiplekkie ook, hulle wil darem bietjie privaatheid ook hê.
Nou is daar sekere universele dingetjies wat mense glad nie verstaan nie. Soos koste per nag. Ons woonstelle kos geld om te onderhou, te meubileer en toegerus te hou. Yskaste, TV’s en mikrogolwe en so hou presies die waarborgtyd plus een week. Beddegoed moet gereeld vervang word. As iemand groen naellak op ‘n kussingsloop mors, gooi ek sy mater uit. Alles kom in stelle van twee, en mens kry 50 shades of cream, al is alles 100% katoen percale. Die handdoek waarmee die rooi naellak opgevee is, het my vier handdoeke gekos. (Daar was net vier in die stel, en mens sit nie odd amper dieselfde handdoeke neer nie.) Ek wonder of mense tuis ook so onverskillig is met naellak, want ek het al van ‘n bank ook afgekrap. Dié op die yskas kon nie af nie, maar die yskas is ook daarmee heen.
Van stelle gepraat. Die plekmatjie wat iemand gesit en snytjies sny het, het my ook vier plekmatjies gekos.
Lepels en vurke maak die handigste tools. Of andersins het baie van ons gaste psychokinesis- vermoëns, want om die harde vleklose staal gebuig te kry, sit nie in ‘n kind se broek nie. En daardie vurk wat saam met die padkos ingepak is in my plastiese bakkies kos my ook weer ‘n nuwe stel … Terloops, plastiese bakke is daar vir gebruik, nie vir inpak nie.
Glase wat breek verstaan ek, dis ‘n blote ongeluk. Maar jy hoef regtig nie moeite te doen om ‘n amper-dieselfde een te gaan koop nie. Ons gooi dit uit. Wie wil met ‘n odd spul in die kaste sit?
Ek weet die handdoeke is lekker sag om daardie duur bergfiets van jou se ketting op neer te sit, en sommer byderhand om die ghries van jou hande af te vee, maar wat van ‘n koerant of tydskrif? Ek is oortuig dit sal ook doen.
Ja, ek weet ons kussings slaap lekker. Ons doen juis baie moeite om hulle in die hande te kry. Die voos stukke spons waarmee die kussings al omgeruil is, gaan reguit asblik toe!
Die rede waarom ons op al die dubbelproppe groot skryf, Kleinmond, beteken daardie prop wil graag in Kleinmond bly woon…
Nee, ek weet jou hond is skoner as ‘n mens, en dis jou kind, maar ons het ‘n streng No Pets beleid, om baie goeie redes. Jammer daaroor, regtig.
Mens kan ook tegnies raak en bereken as ons die plek sou verkoop en die verskil wat sou oorbly nadat ons ‘n woonhuis gekoop het belê, gaan ons dalk meer rente verdien as die inkomste uit huurwoonstelle. Party dae dink ek dis makliker … maar intussen, kom weer!