Met party vriendinne deel jy al jou lief en leed, jou geheime, al praat jy nie elke dag nie, praat julle asof julle mekaar netnou nog gesien het. En ‘n vriendskap hou lewenslank, al gebeur wat.

So ‘n vriendin was jy vir my, Elma. Ek praat maar direk met jou, want ek glo jy hoor my waar jy nou is.

Ons het in Mikado-Suid ontmoet, meer as 40 jaar gelede. Saam het ons kinders grootgemaak, al was ons self skaars meer as kinders. Ons het ons lief en leed gedeel, mekaar se geheime geken en bewaar – dekades lank. Ons het mekaar deur egskeidings bygestaan, dingetjies met familie deurgewerk. Daar was nuwe liefdes, nuwe lewensmaats. Op jou troudag met Lammie het ek die kleintjies opgepas, later jou swangerskappe beleef en na die babas kom kyk. Jou liefde vir kwekerye en tuine het ek gedeel en later jare het jy ook Johannesburg toe gery om na my kwekery te kom kyk. Ons het meer sigarette saam opgerook as wat ek kan tel.

Die dag toe jy my gebel het toe Lammie oorlede is was ‘n volmaanaand, ons was by die strand besig met ‘n volmaanpiekniek. Op dieselfde strand het ek saam met jou gestap en het jy my vertel van die uitdagings van jou lewe. Julle het by ons kom kuier en ek het die waarde van vriendskap oor dekades besef. Dit sou ook die laaste keer wees wat ek jou gesien het.

Ek gaan more luister na jou begrafnisdiens en daarna sal ek strand toe gaan en ‘n skulpie vir jou in die see gooi, en dankie sê vir ‘n vriendskap wat meer as 40 jaar geduur het.

Bye, Elma!

“In the sweetness of friendship let there be laughter, and sharing of pleasures. For in the dew of little things, does the heart find its morning and is refreshed.”
― Khalil Gibran, The Prophet