Vanoggend se roereier het my laat terugdink aan ‘n dag amper 25 jaar gelede, toe ek die lekkerste roereier ooit geëet het en vir jare lank probeer het om die roereier perfek en presies net so te kry. Vandag besef ek waarom dit so lekker was, Gordon Ramsay verduidelik presies hoe om daardie fyn, romerige roereier te maak.

Die geleentheid was ‘n ontbyt die oggend nadat ons in die skoolkoshuis oorgeslaap het na die 1972-matrieks se 25-jaar reünie Volgende jaar is daar moontlik ons 50-jaar reünie. Daar het al ‘n hele klompie van ons groep weggeval, en wat kan nog hierdie jaar gebeur? Ons verganklikheid word al hoe dringender onder ons aandag gebring.

Facebook het dit makliker gemaak om die mense op te spoor, maar ek is verstom hoe min van ons groep eintlik in die ‘openbare domein’ is. Moontlik word dit wat ek doen vir ‘n lewe grootliks bepaal deur sigbaarheid op die internet, moontlik is dit my ingebore nuuskierigheid oor en belangstelling in tegnologie en ook ander mense se lewens, maar meer waarskynlik is dit bloot die tikkie ekshibisionisme in my wat maak dat my lewe so ‘n ope boek is.

As so ‘n reünie wel plaasvind, sou ek wou gaan? My eerste instink is ja, maar ek het dadelik my motiewe bevraagteken, en besef dis maar net blote nuuskierigheid wat sou maak dat ek sou wou gaan. Ek ken myself, ek is geen party animal nie, en ek sou almal wou bekyk, en na 10 minute huis toe gaan. As ek nie in die vyf jaar op hoërskool met iemand sou aanklank vind nie, waarom nou skielik? Ek hou nie van small talk nie, waarom sou ek teen groot koste met ‘vreemdelinge’ wou doen? Met ons 15-jaar reünie het min mense my herken, of my geselskap opgesoek. Ek was immers een van die Onsigbares op skool. ‘n Taamlik arm plaaskind. Gelukkig darem die arm-maar-ordentlike soort. Die dorpskinders het mekaar geken sedert laerskooldae en saamgespeel, die koshuiskinders was ‘n geslote groep wat niemand in hulle binnekring wou hê nie.

Met die 25-jaar reünie het ek al bietjie ontluik, ek was in ‘n akademiese omgewing en het gaan selfvertroue leer by Toastmasters. My gym-lyf was skraal en glad, bruin en soepel. Ek onthou my kort wit rokkie het nogal reaksie van die manne ontlok, sommer met die aankoms het ek twee agter my hoor praat oor my gebrek aan (altans wat hulle gedink het is ‘n gebrek aan) onderklere. Daardie aand het ek gesien 25 jaar doen niks aan soolseuns se hormone nie. Dis nie dat ek so danig oulik was nie, ek dink net die kontras met die skooldogter was nogal groot. Weer het min mense my regtig herken, of my geselskap opgesoek. My lyf ja, maar my geselskap? Maar dankie aan Hendrik, vir die bier wat jy vir my gekoop het, en iets moois vir my gesê het.

Op ons Facebook-skoolgroep word min ander dinge gedeel as reëlings en foto’s van die jaarlikse reünies; en natuurlik afsterwes. Ons is immers nou in daardie tydvak dat dit nie meer onnatuurlik is of dat mense sê, so jonk nog, nie. Niemand deel egter mooi dinge daar of prestasies nie. Natuurlik sou dit interessant wees om te sien wie het uiteindelik sukses behaal in hulle lewens. Maar waaraan meet jy sukses? Wat is sukses? Word dit gemeet aan jou inkomste, jou geleerdheid, jou voertuie, woongebied, vakansiehuis, oorsese reise, suksesvolle kinders, kortom alles wat status verleen?

Ek het wel op skool ‘n paar wonderlike maters gehad, met wie ek (danksy Facebook) weer kontak het. Jane, Estelle, Marietjie, Ilse en Carel, julle verryk steeds my lewe, net soos op skool. Ag en nou verlang ek sommer ook weer na Gesina ook! Natuurlik is daar ‘n klomp van my ou skoolmaats wat ek graag sou wou sien. Miemie, Sue, Hannetjie en nog ‘n paar.

Ek glo die mense wat ek nodig het in my lewe vir my verdere groei en ontwikkeling, sal my paadjie kruis, reünie of te nie. Ek hóéf my nie meer te meet aan ander soos op skool nie. Ek is happy and content, my lewe is lekker en relatief ongekompliseerd, ek het absoluut alles wat my hart maar kan begeer, al kan dit nie altyd meeding met die tradisionele maatstawwe van sukses nie en al is dit nie baie in materiële terme nie. So sit ek nou maar lekker hier by die see en kyk maar so na die wind en die wolke op ons berg wat die mis en die reën bring… En wonder oor sukses.

We grow neither better or worse as we get old, but more like ourselves.” – Bernard Baruch