Wat ‘n jaar was 2020 nie! Hiermee lig ek ‘n glasie op myself! Vandag, ‘n jaar gelede het ek ‘n doelbewuste besluit geneem dat ek my nie deur die inperking sou laat onderkry nie. En ek het nie! Ten spyte van ‘n paar laagtepunte, het ek geweldig baie vermag.

It was the best of times, it was the worst of times. Charles Dickens het waarskynlik 2020 in gedagte gehad toe hy hierdie woorde geskryf het.

Daar was absolute hoogtepunte en by my persoonlik ook laagtepunte, hartseer en blydskap. Alles was intens. Die swaarste was die afsterwe van my ma. Sy in Mei oorlede. Die moeilikste was om te sien hoe sy haar laaste weke alleen moes ly, sonder haar kinders se teenwoordigheid, al was van my susters naby. Ek is egter bitter dankbaar sy kon die spanning rondom die hele Covid situasie gespaar bly.

‘n Lastige knieligament het my oefenprogram gekniehalter. Letterlik. Voordat dit reg was, het Corona my in sy aaklige stekelrige kloutjies beetgekry en Covid laat my steeds les opsê. Die meeste van die simptome het nou verdwyn, maar my bene pyn steeds. Dit gee my darem tyd om baie ander dinge te doen.

Danksy my tegniese vaardighede en my liefde vir lees, het Boekemakranka vlamgevat, en saam met my formidabele spanmaat Analize Viljoen, het Boekemakranka baanbrekerswerk gedoen vir aanlynboekgesprekke en bekendstellings. Ons het in hierdie jaar meer as 60 aanlyngesprekke gedoen. Daar was ook ‘n paar mediaonderhoude, vir koerante en ‘n tydskrif.

LAPA Uitgewers het in November Oor en Weer uitgegee, wat ek saam met Analize Viljoen geskryf het. Dit was ‘n geweldige hoogtepunt vir my!

Die Hipnose kursus waaraan ek die afgelope drie jaar studeer het, het ek sukselvol voltooi. Cum laude. Ek kan nou ook CHyp agter my naam skryf. ICCHP is ‘n gerekende instansie en ek is ook geregtig om op die IHR International Hypnotherapist Register te registreer.

Die bestuurder van Whale Coast FM het my genader, hy was beïndruk is met my kombinasie van vaardighede en ek doen nou onderhoude vir hulle met mense oor interessante gebeure in ons omgewing.

Rapport het my gevra om ‘n paar resensies te doen.

Groot pret was toe die filmspan van Fiësta vir KykNet by ons huis was om ‘n onderhoud te doen oor ons boek, Oor en weer, en die volgende dag was ek deel van die Oppie Yard Fest, aangebied deur Frazer en Deniel Barry. Frazer is aanbieder van Fiësta en die filmspan het opnames gemaak van al sy kreatiewe vriende se dinge tydens die inperking – oor 3 dae is ons op die lug! Van die groot name daar was onder andere Lien Botha, Gerard Scholtz, Anton Goosen, Meneer Naudé en Hakkiesdraad Hartman.

Ek is trots op wat ek vermag het, nie net my eie dinge nie, maar ook ondersteuning aan ander in die dorp op verskeie maniere.

It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of light, it was the season of darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair.
– Charles Dickens, A Tale of Two Cities