Vals nuus en samesweringsteorieë is al met ons van die opgetekende geskiedenis af. Sommige mense sal die pratende donkie en slang dalk al as fake news beskryf, maar ek sal hou by die goed wat ek self beleef het en in my heugenis en in tydskrifte, koerante en ander media blootstelling gekry het.

Wie van ons het nie as kind grootoog gekyk na prentjies van Nessie, en gedink eendag as ek groot is, gaan ek sélf kyk hoe lyk die Loch Ness monster in Skotland nie? Teen die tyd dat die waarheid in 1994 ontbloot is oor the “surgeon’s photograph” van 1934 wat die stokou legende “bevestig” het, was dit te laat. Vir 60 jaar is dit ondersoek as die waarheid wat net meer bewyse geverg het. DIe foto was van ‘n speelgoed duikbootjie, wat deur Christian Spurling gebou is.

In 1917 het twee niggies in Cottingley, England, Frances Griffiths en Elsie Wright, foto’s geneem en ontwikkel van hulself met papierfeetjies in die tuin. Alhoewel sommige koerante skepties was, was daar grootmense wat só graag wou hê dat dit waar moes wees, dat die legende lank in stand gehou is. Selfs Sir Arthur Conan Doyle, ‘n opgeleide geneesheer en die skepper van Sherlock Holmes, was oortuig dat dit waar is. Doyle, bekend as spiritualis, het die foto’s as ‘n bewys dat daar kommunikasie tussen materiële en geestelike wêrelde bestaan, beskou.

Eers in die tagtigerjare het Frances en Elsie erken dat dit alles vervals is. Die delikate, dansende figure is uit prenteboeke op karton gekopieer en ondersteun met speldjies. Hulle het egter steeds volgehou dat hulle werklik feetjies gesien het.

“The Fairy Shoe of Beara Penisular” in ierland, is egter steeds ‘n misterie. Die uitgetrapte muisvelskoentjie is in die veld opgetel, met proporsies wat geen kindervoetjie sou pas nie. Afgietsels hiervan is nou ‘n gewilde artefak in die area.

DIe Roswell insident van 1947, is vir dekades lank aan ons voorgehou as werklike aliens wat neergestort het en wat deur die Amerikaanse regering toegesmeer is. In 1994 het die Amerikaanse Lugmag ‘n verslag gepubliseer waarin hulle sê dat die voorwerp wat neergestort het, ‘n ballon van ‘n kerntoets deur Project Mogul is. ‘n Tweede lugmagverslag wat in 1997 gepubliseer is, het tot die gevolgtrekking gekom dat die stories en foto’s van die aliens se liggame waarskynlik dié is van toets-dummies wat van ‘n groot hoogte af geval het.

En wie van ons is nie gefassineer deur Crop Circles, veral die ingewikkelde patrone wat oornag in Engeland verskyn nie? Alhoewel hierdie geheimsinnige formasies al wêreldwyd verskyn het, is Suidwes-Engeland waarskynlik die wêreldhoofstad van crop circles, wat inwoners en boere verstom. hierdie is die nuutste een wat hierdie week verskyn het. Van die grond af is niks anders as vertrapte koring sigbaar nie – maar van bo af gefotografeer, is dit ‘n simmetriese patroon.

Die eerste crop circles het in die sewentigerjare verskyn, toe eenvoudige kringe op die Engelse platteland begin verskyn het. Die aantal en kompleksiteit van die sirkels het dramaties toegeneem en ‘n hoogtepunt bereik in die 1980’s en 1990’s, sommige met baie komplekse patrone. Daar is steeds nie ‘n behoorlike verklaring met bewyse hoe dit gevorm word nie, ten spyte van Dave Chorley van Winchester in Hampshire, en sy Doug Bower wat beweer dat hulle dit in die 70’s en 80’s met ‘n plank en tou gedoen het. Daar is baie teorieë oor wat crop circles skep, insluitend aliens, geheimsinnige draaikolke en windpatrone, maar hulle ontbreek almal een belangrike element: onweerlegbare bewyse.

Met al hierdie verskynsels, vals nuus en samesweringsteorieë kan ek saamleef. Sommige het ‘n logiese verklaring, ander nie. Maar nie een van hierdie, of enige iets anders in my leeftyd, oortref dit wat binne ‘n jaar ons toestelle getref en ons lewens kom omkrap en vriendskappe versuur het nie.

“Misinformation is a virus unto itself.”

― Brianna Keilar