Ek het al ‘n paar moeilike jare in my lewe gehad. Die afgelope een was beslis die pynlikste. In my Memories van verlede jaar sien ek vandag mens is nooit te gesond vir ‘n bakkie sop en nooit te siek vir ‘n bakkie roomys nie. En aarbeie proe na bitterige water met tekstuur, maar ek bly dit crave! Nartjies proe heerlik intens nartjierig sonder enige suur, maar is moeite om te kou. Gemmer in my tee proe skurf en sleg, maar laat my beter asemhaal. En dit ruik al ‘n week lank of iemand langs my lê en rook. John verseker my hier is nie eers ‘n rookreuk van die bure af nie.

Die intense fase van koors, hartkloppings, shivers, ondraaglike hoofpyne ens was pas verby, my saturasie weer bo 96 en my pols weer ónder 96. Toe was ek naïef genoeg om te dink nou moet ek net sterk word…

Vir nege maande na Covid het ek gesukkel met seer bene, dit was asof ligamente verkort was. En my senings waar die spiere heg, was seer. Inflamed. Ek kon skaars my bene reguit maak, ek het geen natuurlike soepelheid oorgehad nie. My normale bakbene het bakker getrek, as ek op my sy lê met reguit bene, was my voete in die lug en het dit my knieë seergemaak. Die bloedtoetse het net verhoogde inflammasie tellings gewys.

Geen oogsalf of druppels het gehelp vir brandoë en waterige oë vir nege maande nie.

Die lam en tam dae kon ek hanteer, ons besigheid het buitendien stilgestaan so ek kon rus en Netflix kyk.

En toe, na die eerste Pfizer het ek newe-effekte gehad, amper soos ‘n ligte Covid. En toe dit! My bene was reg. Sonder pyn. Net so. Van nêrens af. My oë wat óók vir nege maande gesukkel het, fokus, wasigheid en waterigheid en brand weg. Nét só!

Na die tweede Pfizer het dieselfde gebeur. Ek was olik vir twee weke, weer met seer bene en brandoë en al. En toe ek daar regkom, ek ek reg. My soepelheid is terug, asof dit nooit weg was nie.

Die pyne en plekke wat nou pla, is gewone middeljarige piep.

Laat ent jou. Dis die regte ding om te doen.