Iets karring al sedert gister in my gemoed. Die seer wat ek gevoel het vir ‘n vriendin, toe sy in ‘n emosionele oomblik sê: Ek sal hom nooit kan vergewe nie, al is hy dood. Vergifnis is ‘n snaakse ding. Jy weet eers jy het iemand vergewe as jy kan terugkyk op iets en besef jy kan sonder emosie daaraan dink.

Ons laerskoolhoof het my as kind bitter onregverdig behandel Ek wil nie eers daarvan vertel nie, want dis nie meer seer nie, dit maak nie meer saak nie. Dit was iets waarvoor ek meer as 20 jaar gelede ‘n rituele vuurtjie moes aansteek en briewe brand om te verwerk en te vergewe.

Selfs toe die rook so in die lug optrek, het ek nog gedink ek moet hom vergewe vir sy gedrag, maar min het ek toe besef ek moet myself vergewe, omdat ek toegelaat het dat sy gedrag my emosioneel skaad. Mens sou kon redeneer hy was in ‘n magsposisie en ek ‘n klein kind, maar tog.

Min het ek besef, dit het hom seerder gemaak oor die jare as vir my. Dit het hom gery. Hy het baie jare later as sieklike bejaarde man my ouers kom sien om verskoning te vra vir die onreg wat hy ‘n kind aangedoen het in die sestigerjare. Hy het besef dat longkanker besig was om hom dood te maak, en hy wou ‘regmaak.’ Vir die eerste keer na veertig jaar het hy vertel hoe hy die kind gehaat het wat die toppresteerder in sy skool was en hoekom hy dit op soveel maniere op haar uitgehaal het. Wat sy verpersoonlik het. En watter rol ander ouers se geld gespeel het. Ons was taamlik arm, maar allesbehalwe versukkeld. My ouers was steunpilare en rolmodelle vir baie ander in die gemeenskap.

Wat so verskriklik sad was, is dat ek gehuil het toe ek daarvan hoor – vir hom. Dit was ook nogal vir my betekenisvol van ons tyd, dat hy met my ouers daaroor gepraat het, en nie met my nie. Net so het my ma my eers jare later daarvan vertel. Sy was bang om my seer te maak en intussen reis ek toe al baie lig daaroor oor die jare, en kon hom sien vir wat hy is, ‘n sieklike ou oompie wat opgevreet word deur skuldgevoelens.

Kort daarna het ek hom in ‘n ander dorp by ‘n geleentheid raakgeloop, en hy het na my gevra en laat kom om te groet. My suster was eers te bang om my te roep, bang dat ek my óú dreigement sal uitvoer en op hom spoeg. ‘n Laaste groet, kort voor sy dood. Sonder woorde het sy lippe gebewe en sy oë het om vergifnis gevra, en myne het teruggesein, dis reg. Ek het niks beter of ligter gevoel nie, die ou emosie het lank reeds in die rook van my rituele vuurtjie verdwyn. Al wat oor was, was hartseer vir die oompie, dat hy nog aan homself gedra het.

Ek het later die aand eers gehuil, maar hierdie keer oor myself. Die besef dat hierdie patetiese ou oompie die oorsaak was van soveel ellende in ‘n ander siel. Die besef dat ek dit tóégelaat het, my hele skoolloopbaar en ook beroepslewe, was erger.

Enige tyd wanneer iemand iets vir my sê met kwade bedoelings, sien ek dit bloot soos seepbelle wegdryf en oplos in die lug…

Love means never having to say you’re sorry” is ‘n frase uit Erich Segal se boek Love Story, en die 1970 fliek met Ali MacGraw en Ryan O’Neal het dit laat buzz. Vandag sou dit seker trend op Twitter, as ons nie so sinies oor sulke clichés geword het nie.

Kim se Love is… karaktertjies het elke verliefde skooldogter se passerblikkie versier. Net jammer ons het die frase verkeerdom verstaan. In ons koppe het dit beteken dat jou gedrag teenoor ‘n geliefde só moet wees dat jy nooit skeef trap, nooit iets ‘verkeerd’ sê en dus die nodigheid het om verskoning te vra nie. Nou sien ek dit anders. Niemand kan regtig iets aan jou doen deur woorde nie. Wat iemand dink, doen of sê, is op sy eie boekie. Hoe ek my laat affekteer daardeur, op myne. As iemand sleg van my dink of praat, is dit bloot in hulle koppe, hulle persepsie van my.

Love all, trust a few, do wrong to none.  ~ William Shakespeare

Voel jy die behoefte aan ‘n verskoning wanneer jy dink dat jy te na gekom is? Dalk is dit ‘n aanduiding dat jy voel dat daar nou iets fout is met jouself, dat jy geskaad is deur ‘n ander se houding of woorde en dus ‘n verskoning nodig het. Dit is vir my maar bloot ‘n funksie van die ego. Jy as persoon kan nie geskaad word deur wat ‘n ander dink of doen nie, jy dink maar net dat jy kan. Laat los, sny die bande wat jou vashou. As jy jouself emosioneel distansieer van die situasie, kan dit jou op geen manier raak nie.

Natuurlik kan mens materiële verliese ly deur ander se aksies, maar jou menswees kan nie deur ‘n ander beskadig word nie, behalwe as jy dit toelaat. 

Op dieselfde manier wat jy nie geskaad kan word deur wat ander van jou dink nie, kan jou woorde ook nie ‘n ander skaad nie. Net jyself ken jou eie hart en jou eie intensies van jou denke. Wanneer jy weet dat jou intensies nie suiwer is oor ander nie, is dit nie vir jou om daardie persoon verskoning te vra nie, want hy kan mos nie deur jou geaffekteer word nie? Die onus is op jou, om in jou eie hart te kyk, en jouself te vergewe vir wat jy gedink, gedoen of gesê het.

As jy lief is vir iemand, onthef hulle van die ‘verpligting’ om jou verskoning te vra vir enige iets.

(Maak geen fout nie, as jy werklik berou het oor jou gedrag, is die J-woord nie altyd so maklik nie. Ek is jammer dat ek … word ongelukkig te dikwels opgevolg met maar jy …). Uiteindelik is ons maar net almal mense. Mense met foute.