Sit maar so by die see en kyk die mis en die wolke…

Het jy al op iemand afgekom wat kafoefel op ‘n snaakse plek?

Ons het vandag in die Palmietrivier onder hierdie brug gaan swem, so ent op in die rivier is ‘n natuurlike borrelbad – MAGIC is nie die woord nie! Die borrelbad is privaat – dis met groot klippe omring. By die brug klouter jy met so mooi paadjie af tot op die klippe, maar dan swem jy rivier-op vir seker so 50 m, die water vloei stil genoeg daar, en daar is klippe tussenin waar jy kan rus. Dis seker net so 50 m tot by die ‘borrelbad’, maar dit  het gevoel soos die Midmar myl stroomop!

Dit laat my toe weer dink aan ‘n vorige keer wat ons daar gaan swem het. So ent op, kon ons hoor daar is reeds mense, en ‘n meisie het so lekker gegiggel. Hoe nader ons gekom het, hoe duideliker het die aard van die gegiggelry geword! Ons het lekker gelag, terwyl ons aan ‘n klip hang, om die kafoefelende couple genoeg kans te gee, dit moes vir hulle hengse spesiaal gewees het. Toe die geluide begin aandui dat hulle weer mense kan aankyk, het ons al hoe harder begin praat om hulle te waarsku ons is onderweg. Dis darem wonderlik om jonk en verlief te wees! Twee oulike kinders, hulle het bietjie gesels soos ons by mekaar verby is. So twee jaar getroud, die twee. En ek dink sy het geweet ons weet…

Ja, OK, ons piekniek maar op die klippe en sukkel die steiltes uit, en die jonges kafoefel. Ons het immers ons beurt gehad…

Hierdie foto is nie vandag geneem nie, maar die water het net so gelyk. Dalk bruiner, meer die tipiese amber bergwater kleur.

Daar is kinders wat van hierdie brug afspring, my hart wil natuurlik gaan staan!

En ja. Ons besef inderdaad hoe bevoorreg ons is. Ons het in daardie borrelbad gesit en Dankie gesê vir die voorreg om in hierdie wonderlike omgewing te kan woon.

The Allure of Demure

Onderdanigheid is nou nie juis ‘n eienskap waarvan jy my kan beskuldig nie. Was ook nog nooit. Die drie oujongkêrel-ooms langsaan het my as klein kind, die bynaam Cheeky gegee. Welverdiend ook.

Ons koop normaalweg nie die Sunday Times nie, maar gister het die woonstelgaste een agtergelaat, en in hierdie huis as daar iets geskryf staan, word dit gelees. (Ek sal nou nie so ver gaan as om te sê dat MaanMan instruksies lees nie…) In die Times Live, was ‘n baie interessante stuk, The allure of demure. Daarin

Mans kan nou maar sê hulle kies ‘n vrou met persoonlikheid, ‘n slim vrou, ‘n sterk vrou. Maar wie maak hulle harte sag, en bring die beskermingsdrang na vore? Ms Demure.

Nou hier in my middeljare dink ek al hoe meer daaraan, Feminisme was ‘n aaklige ding om aan ons geslag te verkoop, dit het bloot gemaak dat ons ‘n raw deal kry. Ons moes alles wees, want ons is gemaak glo dat ons supervroue is. En het ons nie probeer nie… En wie het in elke situasie met die prys (en dikwels ook die bevordering) weggestap? Ms Demure. En wie het die werk gedoen? En waar het dit die sterk vroue gelaat? Ms Demoer (in).

DH Lawrence wrote: “Men have loved to dwell … on the demure maiden whose inevitable reply is: Oh, yes, if you please, kind sir! The demure maiden, the demure spouse, the demure mother this is still the ideal.

Demures might not be rich, intense or vivid in colour, but they do have a place in the herbaceous border of life. They are those small blushing flowers in the front nodding prettily away. It is only when you dig them up you find their long tenebrous roots have strangled every other plant in the bed. – Lin Sampson

Ek moet darem byvoeg, persoonlik dink ek ms Sampson is hopeloos te sinies in haar uitkyk. Meeste vrouens wat ek ken is maar ‘sterk’ vroue, en ons laat ons mos nie misbehandel nie, of hoe? Feminisme is ‘n vloekwoord.

Yskoud, maar Vuurwarm

Met die honderdste herdenking van die Noorweër Roald Amundsen en die Brit Robert Scott se ekspedisies na die Suidpool, het die yswêreld van die Suidpool mense van nuuts af aangegryp. In elke koerant sien jy artikels, soos hierdie een in die afgelope naweek se By. Bileam het ons ook heengewys na Hanlie se ys-belewenis by Sanae. Vanoggend was daar ‘n gesprek op RSG oor Ysland, en die National Geographic het ook hierdie maand rare foto’s in oor die 1910 – 1912 Terra Nova Espedisie na die Suidpool.

Hou gerus Boekemakranka dop vir Eensame ekspedisie - Dagboek van ‘n eensame, op ‘n Suidpool avontuur  (Dries Brunt is self ‘n deurwinterde Antarktiese ekpspedisielid).

Ek is ook soms eensaam, maar mag ek nooit eensaam midde-in ys word nie…

Eensame ekspedisie is nou te koop op Amazon! Kliek op hierdie skakel.

Doodles

Doodle jy as jy op die foon praat? Ek het geen idee wanneer ek hierdie gedoen het nie, maar die patat lê langs die telefoon in ‘n groentebak.

Dan sê ek maar nou dankie aan die patat.

Dankie dat jy daar was vir my, dankie dat jy geduldig geluister het toe my pen met jou gepraat het.

Maar bowenal – Dankie dat jy jou lewe gee, sodat ek kan lewe. Want my hart kry seer om iets wat so mooi lewe nou in die oond te vermoor…

Posted with WordPress for BlackBerry.

Nuwe jaar

Hierdie jaar het amper ongesiens oorgeglip in die volgende een. Die eerste springgety van die jaar was altyd vir my simbolies die strand skoon van al die gemorsgoedjies wat vakansiegangers agterlaat, die sigaretstompies, die plastiekringetjies en strootjies wat hulle in die sand begrawe, asook die laaste van die vuurwerkvertoning se raapsels en skraapsels. Nuut. Skoon. Vars en glad. (OK dit spoel weer uit, maar dan kan mens dit ten minste optel en weggooi)

Hierdie eerste springgety het ek gemis, my vel brand nog te veel as ek in selfs in die ligste van sonstrale kom.

Volmaan het amper ongesiens verbygeseil.

Tyd is kosbaar, en as die gemiddelde mens 29,000 (ja, werk maar uit) dae leef, dan is dit nogal scary as ek sien nog ‘n dag is verby. Daarom wil ek elke dag lekker voel as ek terugkyk op my dag, dat ek iets gedoen het wat ek wou doen. Moes doen. Andersins sou ek seker onvergenoegd raak.

Dan is dit ook lekker om terug te kyk op my jaar, om te sien wat ek alles op Facebook kwytgeraak het. Hier is net so uittreksel:

 

Asemhaal
Getye
Seisoene
Volmaan en Nuwemaan
Dag en nag
Dae van die week
Maande van die jaar
Lewe en dood
Op en Af en In en Uit

Alles gebeur in siklusse, alles. En so het die vakansieseisoen amper oornag tot einde gekom. Winkels is weer tjoepstil,  en op die strand is meer oorblyfsels van vakansiegangers as mense. Strate is stiller. Almal se fut is uit, soetgoed klink nie meer lekker nie, braaivleisvure vlam nie meer so hoog nie, en kort-kort ry hier nog ‘n volgelaaide voertuig met fietse agterop, of ‘n karavaan verby op pad huis toe.

Kersfees in Kleinmond is altyd ʼn baie besonderse tyd. Terwyl almal in ‘n feestelike stemming is en kuier, was daar mense wat harder gewerk het as gewoonlik wat ‘n baie groot dankie verdien.

My grootste dankie gaan aan al die manne van die poeftrokke wat van ligdag tot laataand gery het. Uhm, ja, ons het mos nog hierdie stelsel… Ons is tjok-en-blok oor hierdie tyd, en ons het oor die Nuwejaarsnaweek ‘n kommunikasieprobleem gehad wat gelei het dat die kontrakwerkers wat ingekry is om die ekstra las te verlig, deurmekaar geraak het met strate en lane (Bly bietjie in ‘n dorp met strate en lane en jy raak self soms deurmekaar!) en by die verkeerde huis gaan leegsuig het. Ons Munisipale Areabestuurder was met ‘n glimlag in haar stem en goeie wense vir die nuwe jaar op Nuwejaarsdag bereid om ons te help om die probleem uit te sorteer. Wat ‘n verligting toe ons 20 minute later daardie bekende dreuning voor ons oranje huis hoor. Imagine vir een oomblik ek moet vir gaste gaan sê moet asseblief nie flush nie…

Die manne van die vullistrokke het elke dag gery, en met ‘n glimlag hulle werk gedoen om ons dorp skoon te hou. Ek besef ook nou wat die term sigbare polisiëring beteken, die polisie en verkeersmanne was baie sigbaar. Die brandweer en noodspanne Volunteers het blitsvinnig ‘n bergbrand geblus.

Die kassiere van al die winkels, maar veral by die SuperSpar, is voorwaar besondere meisies. Nadat hulle vir ure aanmekaar gewerk het, was ons steeds met ‘n glimlag begroet! Die bestuur van ‘n winkel of ‘n restaurant kan hóé goed wees, maar uiteindelik is dit maar die personeel agter die kasregister, of wat jou kos aandra, wat jou koop- of eet ondervinding maak of breek.

Al hierdie dinge maak dit so ‘n unieke ervaring om hier te woon, ons was altyd gewoond in stede gaan munisipale en ander dienste agteruit oor vakansietye, maar hier word groter pogings ingesit. Ons munisipaliteit, polisie, verkeer en al die besighede verdien ‘n baie groot dankie! Wat ‘n dorp!

En dan natuurlik ook ‘n groot dankie aan al die vakansiegangers wat nou in groot getalle teruggaan, wat help ons om dorp te laat groei in die lekkerste vakansiedorp wat ek ken!

Eke jaar oujaarsaand begin ons dorp lewe kry as dit donker word so teen 20:30. Oral hoor jy kinderstemme, musiek en jongmense se gejil. Grootmense is vroegaand nog sedig en stap bedeesd met bakke slaai en koelsakke op pad na een van vele paarties. Braaiveisreuke begin die lug vol trek en my oë brand van die paraffienreuk van die Blitz. Bakkies vol jongmense agterop ry en een speel glads Boeremusiek luidrugtig deur die strate. Almal is in ‘n goeie stemming en groet en waai en lag.

Omdat ons in ‘n baie sentrale kol bly, is ons gastehuis se parkeerarea vol, nie net van ons eie gaste nie, maar ook mense wat nie nader aan die strand parkeerpleek kry nie.

Dis Lig en dit Lewe. Almal wag vir die groot (amptelike) vuurwerkvertoning wat so teen 23:00 op die strand afskop, en amper 2 ure aanhou.

   

Normaalweg is oujaarsaand vir my een van nadenke oor die jaar wat verby is, ‘n refleksie op wat ek geleer het en nog kón leer, maar hierdie jaar was my gedagtes eenvoudig.

Dankbaarheid. Dankbaar vir die kinders wat kom kuier het. Dankbaar vir ons eie gesondheid. Dankbaar dat ek ‘n aaklige siekte gekry het, wat my tot stilstand geskok het, maar wat my kans gegee het om ‘n wonderlike uitdaging aan te pak, en  wat gegroei het tot ‘n vinnig-groeiende Uitgewery van e-Boeke vir Kindle, wat op Amazon verkoop word.

Gister op die strand was dit groot pret (met die advieskomitee in die vorm van MaanMan en skoonseun Japie wat sit en instruksies gee) om 2011 te laat wegspoel in die verlede. Skoon te maak.

Ons verwelkom dan amptelik:

Every day is a New Beginning.

A new cycle begins this day, yet a new cycle begins every day. Indeed, every moment. So if you recognize anything on this day, recognize what it symbolizes: The miracle of the endlessly continuing Cycle of Life.

What a grand day! What a time for celebration! We begin again today! We turn the page! And so, let go of all that you do not wish to carry with you any further. Any fear, any sadness, any anger, any resentment, any disappointment, any lament…let it all go. And now, using the specialness of this day as a springboard, let’s get on with Life! 

(Neale Donald Walsch)

Mag 2012 ook jóú jaar wees.

Het jy al ooit om elke hoek en draai in iets snaaks vasgeloop? Eintlik iets heel doodgewoon, maar op ‘n plek wat jy dit nie sou verwag nie. En dan so snaakse draai op jou maag gekry, omdat jy weet dat dit vir jou ‘n Boodskap van Bo is, en jy moet dit ontsyfer?

Veertjies is seker een van die goed wat meeste mense verbind met ‘n boodskap. Ek kry veertjies as bevestiging van my gedagtes. Hoe suiwerder die gedagte, hoe fyner en witter die veertjie, en hoe vreemder die plek waar ek hom kry. ‘n Sagte gryserige veertjie is ‘n vermaning, en bewaar almal om my die dag as ek ‘n swartetjie kry… Dan loop ek met donker gedagtes in my kop.

MaanMan is nogal bekend onder ons vriende as die man wat die Earbuds kry. Oral waar hy loop, is hulle voor sy voete. Stop ons by Mooiberge om aarbeie te koop, dan lê enetjie voor sy kardeur. Piekniekplekke, onder ‘n boom waar ons op ‘n afgeleë pad parkeer, op pad biblioteek toe, nou die dag glads op die vloer in ‘n klerewinkel, waar hy onwillig saam met my in is. In elke dorp waar ons kom wag daar enetjie voor sy voete. Gaan klouter ons hier onder op die rotse langs die see, kry hy een waar angels fear to tread. ‘n Besonder snaakse plek onlangs was agter die bure se braaiplek (vakansiehuis, geen siel kom daar nie), toe hy ons blinde kat uit hulle boom moes help. Hierdie nommertjie het langs die R43 gewag, mooi op die plek waar hy met sy fiets gestop het vir ‘n sluk water. Dit was so snaaks, dat hy my in die kar gelaai het om te gaan wys. Ek moes dit eenvoudig op film verewig. Wat? Hoe? Hoekom? Hy kry net nie die antwoord nie.

En dan die snaakste een. Bloed. Daar het ‘n paar keer ‘n druppel bloed verskyn waar ek besig was. Eenmaal teen die wit muur voor my oë, waar ek staan en stryk. ‘n Paar maal op ons (wit) teëls. Twee maal spontaan op my vinger (waar geen mes of naald naby was nie, eenmaal op my been terwyl ons in die kar gery het, en een keer op hierdie einste sleutelbord waarop ek sit en tik. Dit verskyn eenvoudig op ‘n plek waar ek besig is. ‘n Groot druppel taai rooi bloed, wat dan bruinerig word na ‘n rukkie. En nee, ek kneus nie maklik nie, ek bloei nie maklik nie en ek drink nie bloedverdunners nie. In fact, die Bloeddienste wil nie eers my bloed hê nie, ek mors glo hulle equipment omdat my bloed stadig loop en die sakkie nie volkom nie. Ek was nogal uitgefreak daaroor, en het Opgevra Boontoe, en die antwoord was bloot: Lewensbloed. Nee toemaar, ek weet ook nie. Dit het darem lanklaas gebeur.

My nuutste een is darem makliker en niks grillerig nie. Rafeltjies, in ‘n sekere vorm gedraai. Pragtige pastelkleure rafeltjies. In boeke. Op die mens se rug wat voor my stap, op ‘n restaurant se tafeldoek, oral kry ek mooi sagte rafeltjies, met so ogie en ‘n spiraal gedraai. Daar was darem nog net een kwaai gekoekte swarte…

Sylvia Browne het ‘n verklaring vir Synchronicities, waar besonder betekenisvolle toevallighede gebeur. Sy reken dit is A secret wink with God, om te bevestig dat jy inderdaad op die regte tyd op die regte plek is.

In Phenomenon sê sy ook: So pause to say thank you for your coincidences, large and small. The’re all snapshots of your immortality, and confirmation that you and your chart are in perfect synch.

Het jy al so iets ervaar?

Enige verklarings welkom…

 

Ietsie net vir jou…

Mense praat altyd van vreemde geskenke wat hulle kry, elke jaar kla party oor hulle duur goed koop en met sorg toedraai en dan self net Heavenly room kry. (Wens iemand wil vir my Heavenly room gee, die pienkes…)

Hierdie jaar het ek ‘n wonderlike present gekry van ‘n vriendin, nie vir Kersfees nie, sommer net. Die skerpste messie wat bestaan, omdat ek altyd so kla oor messe. Sy het ‘n simboliese toutjie om die messie gedraai, sodat dit nie die vriendskap afsny nie, en ek het haar simbolies ‘n muntstuk gegee, om dieselfde rede, sodat die gee/neem/gee/neem siklus nie verbreek word nie.

So het ek ook besluit dat ek bevoorreg is in elke opsig, en genoeg het, en ek wou probeer om hierdie kers/vakansieseisoen meer te gee as wat ek kry. Hetsy goed, geld, liefde, sorg en presente. Dit was heerlik, en ons het verskillende goed gedoen, en verskillende projekte ondersteun. Detail nie belangrik, maar daar is inderdaad saligheid in die proses.

Boekemakranka -  Uitgewers van e-Boeke vir KindleEk is geseën met ‘n heerlike nuwe projek hierdie jaar wat my nie net uit die kwaad gehou het nie, maar ook besig terwyl ek siek was en nie kon rondrits nie. Daarom wil ek ook graag teruggee, en met die skrywers se toestemming, gee Boekemakranka gratis e-Boeke vir jou Kindle weg hierdie week. Hier is ‘n maklike skakel:

Gratis Afrikaanse e-Boeke, met die komplimente van Boekemakranka!

Ek vra niks in ruil nie, geniet dit net, en wees dalk net op ‘n ander manier gaaf met iemand anders.

PS. Net voordat ek kon kliek op Publish, toe kom hierdie boodskap deur.

I believe God wants you to know that Christmas may have passed, but the joy of this season shall go on forever. And even forever more. 

This is the great promise of God: that the happiness that filled so many hearts yesterday will fill even more lives tomorrow. And that peace and joy. which is Christmas, will reign forever — and is available to every soul, now and always.

These are glad tidings. This is the good news: that Christ is born every day, is us, and that God lives in each person through eternity. It does not matter what religion you belong to. Love is the only religion.

So…Continue Christmas.

 

Kersfeestyd Familietyd

Kersfeestyd
Kuiertyd
Familietyd

As kind uit ‘n baie groot familie, het ons met familiekuiers en -byeenkomste groot gewoord. Die speel met die niggies en nefies was heerlik, as die gegroet van die grootmense net eers verby was (En ons meisiekinders oom Kosie-So-Sê se spoeg kon weggril) As daar nie nefies en niggies saamgekom het nie, moes ons natuurlik die teemaak ding doen. En my ma was baie presies oor hoe die teepot behandel moes word, en hoe die lepeltjies in die pierings moes lê.

Nietemin. Nou is ek groot, en die familie en familie se kinders met hulle kinders kom by ons kuier. Nou eers sien ek hoe lekker dit is as een span op ‘n slag kom kuier, ons kuier intens, en op hierdie manier het ek my susters en broer beter leer ken as wat ek hulle en hulle gesinne geken het. Groot kuiers is vir my te oppervlakkig en ek geniet niks.

Dan kyk ek ook om my hoe lyk ons dorp. Kinders en familie van heinde en verre het kom uitspan by die see  kom vakansie hou. Almal se huise is vol, die strate besig en oral sien jy kleinkinders saam met ouma en oupa rondstap.

Hierdie was ons negende Desember in Kleinmond, en die tweede Kersfees wat ons nie met kinders of familie deurbring nie. Daar is nie ‘n gat in my hart daaroor nie, want van die kinders en die krulkopkleinkind kom net voor die klok slaan vir 2012.

Menige dag sien ek op die strand hoe ouma en oupa moedeloos word, omdat die kleintjies hulle lam speel. “Nee, oupa, nie nou al nie, nog net ʼn rukkie,” hoor jy kort-kort. Waar speel so ʼn kleintjie dan nou ook lekkerder as op die strand? Ouma en oupa dink aan die vlekke wat hulle brand in die son, maar wat wil speel is die kleintjies!

In ons dorp word baie fiets gery, omdat dit so heerlik gelyk is en die strate stil. Mens sien nie soseer duur fietse en mense met kleurvolle lycra pakkies nie, maar lekker gemaklike dikwiel fietse, met mandjies voorop, vir biblioteek boeke of die dag se inkopies. Vakansietye kom daar ʼn nuwe toevoeging op die fietse – sulke plastiese stoeltjies waarin ʼn kleintjie agterop vasgemaak word.

Dit is ʼn wonderlike voorreg vir die oumas en die oupas om op so ontspanne manier tyd met hulle kleinkinders deur te bring en baie verrykend vir die kleintjies om ʼn seevakansie te kom hou.  Op die manier kry die jong ouers darem ook ʼn welverdiende breek.

Ons het vanoggend ook ‘n lang gesprek gehad, oor die seer en eensame mense in hierdie tyd. En die kontras wat hulle moet voel in spesifiek hierdie seisoen van gee en deel en kuier en saamwees.

Mag ons ook net almal in gedagte hou dat daar kindertjies is wat nie eers weet dat dit vakansie was nie, dat ʼn kospakkie wat deur een of ander instansie uitgedeel is die enigste ervaring was wat die een dag anders as die vorige een gemaak het. Van daardie kindertjies het die vakansie ook by hulle ouma deurgebring, nie vir die voorreg van ʼn vakansie by ouma nie, maar omdat sy die enigste versorger is wat nog in die familie oorgebly het.

PS As jy nie weet wat om die vakansie te doen nie, Boekemakranka het sommer ‘n klomp lekker boeke vir jou Kindle!

Tag Cloud

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 524 other followers